Herwin ou blikke en maak iets moois en nuttigs daarmee
Greta Gericke
Of dit nou leë koffieblikke of ertjieblikke is, bêre dit en gebruik dit as goedkoop dekor in jou huis. Jy sal verstom wees oor die effek.
HOU DIT BYDERHAND Kombuisgerei wat rondlê, kan jou kombuis deurmekaar laat lyk. Verf ’n groot blik in ’n kleur wat by jou kombuis pas. Dit kan ook goed by die braaiplek werk.
METODE EN WENKE Jy kan die blik heeltemal verf of slegs ’n deel daarvan. Gebruik maskeerband om die dele wat jy nie wil verf nie, te bedek.
KUUR VIR KIEKIES Stal foto’s in tunablikkies uit.
METODE EN WENKE Jy hoef nie net foto’s te gebruik nie. Knip mooi papier uit en plak dit of ’n blommetjie in die blikkie. Plak tou agter die blikkies vas en hang dit teen die muur op.
DRUK DIT IN ’n BLIK Maklik en prakties! Koop geskenkpapier en trek blikkies daarmee oor. Dit kan as boekstutte gebruik word.
METODE EN WENKE Sit ’n paar swaar artikels in die blikkies as jy dit wil gebruik om boeke bymekaar te hou en te keer dat dit omval
PLANNE MET POTTE Groot blikke is stewig en kan swaar gewig dra. Dié blikke gee die kleipotte meer hoogte. Jy kan die plante net so in die blikke ook plant, of in hul oorspronklike potte hou. Ideaal om ’n wit muur effens toe maak.
METODE EN WENKE As jy die plante direk in die blikke plant, onthou om ’n paar gate vir dreinering onder in die blik te maak.
BLIK JOU TYDSKRIFTE Stal jou tydskrifte in blikkies uit. Jy kan ook ander papierwerk in hierdie blikkies stoor.
METODE EN WENKE Sny albei kante van die blikkie oop. Was die blikkies goed en laat droog word. Plak die blikkies met gom teen ’n houtplankie vas. Wag dat die gom droog word voor jy die tydskrifte in die blikkies sit.
KRUIE VIR KOOK Blikkieskoshouers is perfek vir vars kruie. Sit dit sommer langs jou stoof.
METODE EN WENKE Gooi die water soms uit en laat die blikkie vir ’n paar dae goed droog word.
SOURCES
Jac Kritzinger