DEUR: MARYKE ROBERTS
FOTO’S: JAC KRITZINGER
Mens het nie altyd genoeg vars blomme in jou tuin om die leefruimte met ’n rangskikking op te vrolik nie. Magdel van den Berg van Somerset-Wes het ’n slim manier bedink om haar eetkamertafel heel jaar deur mooi te maak: sy gebruik interessante bottels en houers om enkel stele in te vertoon. Tussen-in is haar ouma se erfgoed. Dis ook lekker om rond te skuif as jy gaste het en mense sukkel om mekaar oor die tafel te sien.
Ander idees as die blomme te duur of te skaars is:
- Kry oulike kleipotjies met vetplante in en sit dit in die middel van die tafel.
- Gebruik fyn outydse koppies en pierings wat al uitgebreek het, maar sentimentele waarde het en meng en pas dit met drywende kersies in.
- Vleg kransies van afvallote uit jou tuin en sit kersies in die middel. Jy kan dit met linte versier of los glaskristalle tussen-in rangskik vir ’n luukse voorkoms.
- Grawe al jou pewter of silwer kandelabras uit jou kas, rangskik in die middel van die tafel met spierwit kerse en vleg laventel- of olyftakkies om die voete om een lang ketting te maak.