Siektes wat deur insekte veroorsaak word, is nie ongewoon nie en die probleem vererger, waarsku kenners
DEUR: Essie Bester
Ander insekgevare
Muskiete blyk ons nommereenvyand te wees, maar dit is nie die enigste insekte wat ons lewens versuur nie. Wees ook op jou hoede vir luise, myte, bosluise, vlieë, muggies en kakkerlakke.
- Bosluise dra, benewens muskiete, die meeste siektes aan mense oor. In gematigde wêrelddele kan hulle draers van die potensieel aftakelende Lyme-siekte wees. Die vinnige en korrekte diagnose van bosluiskoors kan tot volkome herstel lei. Bosluise dra ook Krim-Kongohemoragiekoors (ons eie weergawe van ebola) en die Arena-virus oor. Dr Gert Coetzee (45), ’n veearts van Klerksdorp, Noordwes, het in 2008 die dodelike Kongokoors oorleef. Erge griepsimptome en die wete dat hy deur ’n bosluis gebyt is, was sy redding. Hy is onmiddellik vir alle virussiektes getoets en met die gevreesde bloeisiekte gediagnoseer waarvoor geen gewaarborgde behandeling bestaan nie. Vir etlike dae het hy in Tshepong- provinsiale hospitaal se afsonderingseenheid om sy lewe geveg. Medici wêreldwyd beskou sy merkwaardige vinnige herstel as ’n wonderwerk. Lucille sê hoewel ongewoon, kom daar gedurende wintermaande al meer gevalle van Kongo-koors in ons land voor wat deur die besmette bontpootbosluise oorgedra word. Kongokoors kan ook deur blootstelling aan besmette bloed of kontak met ’n besmette mens oorgedra word.
- Vlieë is draers van dodelike siektes soos ingewandskoors, disenterie en cholera. Verder versprei hulle tragoom, ’n oorsaak van blindheid. Tsetsevlieë dra ook die protosoa wat slaapsiekte veroorsaak. Jaarliks sterf minstens 25 000 mense aan dié gevaarlike tropiese siekte wat hoofsaaklik in Oos-, Wes- en Sentraal- Afrika voorkom. Sandvlieë is draers van die protosoa wat leishmaniase (’n groep verminkende en dikwels dodelike siektes) veroorsaak. Wêreldwyd is bykans 12 miljoen mense tans daardeur aangetas.
- Kakkerlakke veroorsaak kakkerlakallergieë. Deskundiges vermoed daar bestaan ’n verband tussen die onlangse skerp styging in asmagevalle, veral onder kinders, en dié insekte.
- Muggies, spesifiek die swartmuggie, versprei rivierblindheid wat die hoofoorsaak van blindheid in Sentraal- en Wes-Afrika is. Dit is epidemies in gebiede suid van die Sahara en word ook in dele van Sentraal- en Suid-Amerika en in die Midde-Ooste aangetref. Volgens die WGO ly ’n geskatte 18 miljoen mense wêreldwyd daaraan. Simptome sluit in ’n erge gejeuk en velaandoenings weens wurms wat onder die vel uitbroei. Die wurms wat op die sagte weefsel agter die oog teer, veroorsaak blindheid.
- Vlooie word bykans orals gevind en kan draers van lintwurms, allerlei infeksies en selfs pes wees. Hulle was vermoedelik vir die builepes verantwoordelik wat in die Middeleeue vanaf die Ooste na Europa gebring is. Die vlooie wat eers op rotte geteer het, het na mense oorgespring om die “Swart Dood” of builepes te veroorsaak. Destyds is daar wêreldwyd sowat 75 miljoen mense daaraan dood.