Gedink ʼn plafon moet altyd net wit wees? Dink weer
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s JAC KRITZINGER
Jou plafon is ’n groot deel van jou vertrek en meeste mense verf dit bloot wit en vergeet daarvan. Jou plafon is ’n groot deel van jou vertrek en meeste mense verf dit bloot wit en vergeet daarvan. Dilshad Khalfey van Claremont in Kaapstad het met die hulp van ’n binnenshuiseversierder, Zania Grobbelaar, die kinders se speelkamerplafon opgehelder met ’n oulike geverfde son, wat om die ligte uitkring. Dit helder die vertrek op en bied ’n lekker fokuspunt as die kinders op die mat op hul rug lê en speel.
Ander idees met jou plafon:
- Koop polistereenpanele wat lyk soos die ou gedrukte Victoriaanse plafonne en verf dit ’n kontrasterende kleur;
- Verf die plafon in kontrasterende kleure, wat afsteek by die mure, veral as jou mure ongelyk of baie skeef is, dat dit die oog trek na die plafon;
- Wat van jou gunstelingskildery teen die plafon hang, soos die binnenshuiseontwerper, Ettienne Hanekom by Majeka House and Spa op Stellenbosch gedoen het. Dan kan jy elke aand voor jy aan die slaap raak en soggens as jy wakker word, na jou gunstelingskildery kyk!
- Helder ’n groot, wit uitgestrekte plafon op met ’n plafonroos uit gips, wat by meeste bouwinkels te koop is. Installeer jou daklig daarin en kyk hoe jou gaste “oe” en “aa” oor jou mooi dekorelement.