Soms moet jy jou verbeelding inspan en ou meubelstukke of ornamente vir ’n ander doel inspan as waarvoor dit al die jare gebruik is
Maryke Roberts
Justin Goodman van Melkbosstrand het ’n oulike antieke wastafeltjie gebruik om sy badkamerwasbak op te monteer. Dit bring outydse karakter in ’n andersins moderne badkamer.
Ander gebruike vir jou meubels en ornamente:
- Daardie jonkmanskas wat jy by jou oupa gekry het is ideaal om die televisie, dekodeerder en klankstelsel in te bêre. Alles is netjies agter deurtjies wat jy net oopmaak wanneer jy voor die televisie wil ontspan.
- Gebruik ou houtparafienkissies of koeldrankkratte vir stoorplek. Stapel hulle dwars opmekaar en rol jou spaarhanddoeke daarin, of span dit in die kombuis in vir ekstra stoorplek vir jou vaddoeke of speserye.
- Ou emalje-emmers gee karakter en nostalgie aan ’n bad- of spaarkamer as jy die emmers as asdrommetjies inspan.
- Gebruik jou ouma se melkbekertjies en suikerpotjies vir klein blommerangskikkings voor jou spaarkamer se bed om jou gaste mee welkom te heet.
- Die ou leertrommel wat oortrek is met plakkers van al jou voorsate se reise is lekker stoorplek in ‘n kinderkamer of span dit by die voetenent van jou bed in om komberse te stoor. Gebruik dit op die stoep as koffietafel.
SOURCES
JAC KRITZINGER