Maak maklike goedjies uit eierdoppe en karton vir die Paas gevoel.
Marlo Kitshoff-Carstens
Hasieplekmatjies
BENODIGDHEDE
1 A3- steenkleurige karton (by kunswinkels)
potlood
liniaal
hasiekoekiedrukker
handwerkmessie (enti-cutter)
gom
kraletjie
Metode
1 Trek reghoek van 45 cm X 35 cm op karton. Plaas ronde voorwerp op hoeke en trek met potlood hoeke rond. Knip uit.
2 Plaas hasiekoekiedrukker in regterkantse hoek en trek met potlood na op karton.
3 Gebruik handwerkmessie (enti-cutter) en sny hasie op potloodlyne uit, behalwe onderkant van hasie. Dis gedeelte gaan opgevou word sodat hasie regop kan staan.
4 Plak krale vir ogie op elke hasie.
Kersie in ‘n koppie
BENODIGDHEDE
eierdoppe
wit kers, gebreek
stukkie tou (vir pit)
Metode
1 Maak jou eie kersies deur gesmelte kerswas met toutjie (vir pitgedeelte) in gebreekte eierdoppe wat skoon gewas is te giet en te laat stol.
2 Plaas mos in koppie en plaas eierkersie daarin.
WENK Jy kan ook ‘n naamkaartjie aan die koppie se oor bind sodat dit as plekaanwysing kan dien
Hasies in die tuin
BENODIGDHEDE
hasiekoekiedrukker
wit papier
potlood
skêr
wit Coriboard (advertensiebord)
lang sosatiestokkies
gom of breë kleeflint
Metode
1 Gebruik koekiedrukker, trek patroon op papier na. Vergroot hasiepatroon op fotostaatmasjien tot 200% groot.
2 Knip hasiepatroon uit en trek na op wit Coriboard (advertensieborde). Coriboard is geskik om die wind en weer te kan weerstaan.
3 Knip Coriboard uit en plak ‘n sosatiestokkie aan agterkant van hasie vas met gom of breë kleeflint.
4 Steek hasies in tuin of in jou potplante om die paasgevoel te gee.
WENK Jy kan ook lint om hul nekke bind
Eierkrans
BENODIGDHEDE
gekoopte stokkies krans
klomp gebreekte eierdoppe
klompie gekoopte wit vere
gomgeweer of sterk gom (blitz)
2 m lint (vir ophang)
kleurlose spuitvernis (opsioneel)
Metode
1 Gebruik gekoopte krans en plak skoon gewaste eierdoppe op krans vas met gom wat vinnig droog word.
2 Vul gate met vere op.
3 Bind mooi lint aan krans en hang op.
WENK Gebruik kleurlose spuitvernis om die eiers ‘n harder afwerking te gee sodat dit nie so maklik breek nie
Papiervlaggies
BENODIGDHEDE
5 velle verskillende plakboekpapier
skêr
gom
ongeveer 6m lint (1cm breed)
liniaal
potlood
Metode
1 Gebruik verskillende plakboekpapier met patroontjies op, maar wat bymekaar pas. Daar sal 3 vlaggies op plakboekpapier uitkom.
2 Teken driehoek met middellyn van 20 cm en dwarslyn van 14 cm breed. Die lyntekening moet nou soos T-aansluiting lyk.
3 Verbind lyne aan kante om driehoek te vorm. Gebruik dit as vlaggiepatroon.
4 Teken 1,5 cm lyn aan bokant van vlaggie, dis die merk waar karton omgevou moet word sodat die lyntjie deurgesteek kan word.
5 Plak omgevoude deel van vlaggie met dun strepie gom vas. Laat droog word.
6 Maak genoeg vlaggies sodat jy lyntjie vol kan ryg.
SOURCES
Elmarie Knapton