Mense kyk hierdie skulpie op die strand mis, maar jy kan dit in ‘n juweel omskep
Marlo Kitshoff-Carstens
Maak ‘n skulpiekrans
BENODIGDHEDE
1 stuk dik karton
potlood
handwerkmessie (enti-cutter)
handwerkverf in bypassende kleur
kwas
2 buisies sterk gom
ongeveer 80 mossels, afhangende van grootte
1,5 m lint
Metode
1 Trek grootste sirkel met behulp van ‘n bord op karton af.
2 Trek kleiner sirkel presies in middel van groot sirkel af.
3 Sny binneste sirkel en groot sirkel om buiterand met handwerkmessie uit.
4 Verf voor- en agterkant van kartonwiel en laat droog word. Verf ook randjies van kartonsirkel en laat goed droog word.
5 Plak mossels op kartonsirkel vas. Plak ronde kante van mossels op rand van kartonsirkel.
6 Laat goed droog word en bind ‘n lint daarom sodat dit opgehang kan word.
WENK Jy kan ook ‘n geweefde krans gebruik as dit buite in wind en weer gehang gaan word
Verewig dit in hars
BENODIGDHEDE
1 fotoraam met ‘n ingesakte rand
2 kleure stokperdjieverf
kwassie
ou lap
growwe skuurpapier (80 grint)
kleurlose vernis
sterk gom
ongeveer 50 klein mossels
1 pakkie Pratliglo
2 weggooibare glasies
2 tongstokkies
Metode
1 Verwyder fotoraam se glas.
2 Verf fotoraam met donkerste kleur en laat droog word.
3 Verf ligter kleur bo-oor en vee verf plek-plek af (veral op rande) waar dit vir jou mooi lyk.
4 Skuur raam se kante indien nodig om meer verweerde voorkoms te kry. Stof raam af en laat goed droog word.
5 Verf buite- en binnerande van fotoraam waar hars nie sal wees nie met kleurlose vernis.
6 Plak mossels met mooi kante na bo en laat droog word.
7 Om hars aan te maak Volg aanwysings op voubiljet.
8 Giet helfte van een botteltjie en helfte van ander botteltjie bymekaar in weggooibare glasie en meng goed.
9 Giet oorblywende mengsels van botteltjies in ander weggooibare glasie. Roer tot goed gemeng.
10 Roer nou die twee mengsels goed bymekaar.
11 Giet harsmengsel heen en weer tussen glasies om te verseker dat dit goed meng.
12 Giet hars stadig in fotoraam en stryk met stokkie plat sodat dit alles bedek.
13 Plaas groot soos skoon deksel of kosnet oor sodat hars kan stol.
14 Laat staan twee dae tot goed droog.
15 Plaas fotoraamglas terug.
WENK Moenie op koue, reënerige dae met hars werk nie omdat dit die eindproduk sal beïnvloed
Mossels aan ‘n string
BENODIGDHEDE
ongeveer 30 middelslag-mosselskulpe
elektriese boor
fyn boorpunt (nr 2)
Prestik
22 cm rekbare garing/lyn
ongeveer 30 kristalkralletjies
Metode
1 Plak groot stuk Prestik op werksoppervlak. Dit vergemaklik boorproses.
2 Druk buitekant van mossel daarin. Die mooi binnekant moet na bo wys.
3 Boor gaatjie teen stadige spoed in middel van mossel.
4 Stop boordery as jy by Prestik kom.
5 Ryg mossels en kraletjies op rekbare garing of lyn in en knoop punte bymekaar.
6 Gebruik as servetring.
Maak ´n stormlampie
BENODIGDHEDE
1 glas
14 groot mosselskulpe
sterk gom, soos Blitz
bietjie sand
klein kersie
12 cm x 12 cm-houtblokkie
Metode
1 Plak glas op houtblokkie en laat droog word.
2 Draai glas op sy en plak mossels op kant van glas. Plak een groot ronde kant van mossel na onder en volgende een met groot ronde kant na bo. Hou so aan tot glas rondom bedek is.
3 Vul met sand en kersie.
SOURCES
Andrea Caldwell