Selfs ‘n huis in ‘n kompleks kan sy eie unieke karaktereienskappe hê
MARYKE ROBERTS
’n Kristalkandelaar in jou huis gee onmiddellik daardie ekstra tikkie flair en kan ’n vaal vertrek omtower. Boekwurm Marieta Nel van Durbanville het haar gunstelingskrywers genader om elkeen vir haar ’n ou bril te skenk en sy het dit saam met klein boekies aan haar kandelaar vasgemaak om by haar huis se perfekte oud en nuut pasmaats in te skakel.
Ander idees om aan jou kristalkandelaar te hang:
• As die kristalkandelaar in jou eetkamer of kombuis hang, oorweeg jou ouma se ou porseleinteekoppies, melkbekertjies of suikerpotjies. Kies ’n verskeidenheid en maak dit stewig vas en moenie die kandelaar te swaar laat word nie.
• As jy van ougoed hou, kyk uit vir oulike klein enamel koppies, melkbekertjies of blompotjies in swart en blou. Hang dit met veelkleurige Franse lint aan die kandelaar. Sit daarby ou messegoed, ’n lekker krom vurk en opgeslyte soplepel en geroeste rasper en jou styl is vinnig-vinnig plaaskombuis.
• As jou kandelaar in ’n kinderkamer hang, oorweeg klein poppies en pienk linte, klein balletskoene of klein teddiebeertjies, of versier dit met oulike bunting-vlaggies. Vir seuntjies kan jy rondkyk vir oulike houtspeelgoed of karretjies, ’n hout Pinochio of interessante woordeblokkies in bont kleure of by speelgoedwinkels vir bont skoenlappers of paddas of spinnekoppe uit sagte plastiek.
• Vir ’n kristalkandelaar in jou slaapkamer, kyk uit by antieke markte of winkels vir outydse oorbelle of borsspelde en ou stringetjies pêrels. Koop fluweellintjies in jou kamer se kleure by jou lapwinkel en hang die juwele aan jou kandelaar vir ’n sagte, vroulike voorkoms. Jy kan ook by bloemistes vra vir porseleinblommetjies, wat jy met satynlintjies kan vasmaak.
• As jy van meer eenvoud hou maar meer lig in jou vertrek benodig, gaan loer by jou handwerkwinkel in en koop interessante vorms kristalle en heg met verskillende lengtes vislyn aan jou kandelaar. Dit sal die lig reflekteer, sonder om bont en oordadig te wees.
• Vir ’n handwerkkamer of tienerkamer kan jy ou verfkwaste aan veelkleurige linte hang en sit ’n paar lasersny-woorde of letters tussenin vir ’n pret voorkoms.
SOURCES
JAC KRITZINGER