Moenie daai ou konfytbottel net weggooi nie. Glas maak mooi!
Marlo Kitshoff-Carstens
VOL DRAADWERK
Kry vir jou ‘n draadmandjie vanaf straatverkopers of vat sommer jou konfytbottels saam sodat hulle vir jou ‘n spesiale mandjie daarvolgens kan maak. Vul jou konfytbottels met blomme vir ‘n maklike en mooi rangskikking.
GESKENK IN ‘N BOTTEL
Gebruik klein glasbotteltjies met skroefdoppies en vul dit met geskenkies soos oorkrabbe, ‘n horlosie, krale of sjokolade en lekkergoed. Gebruik kolwyntjiepapiere om die bokante van die glasbotteltjies mee te bedek. Bind kolwyntjiepapiertjies met ‘n dun tou of draadjie vas.
LIG IN DIE DONKER
Gebruik gekoopte glaskershouers of glasbottels in verskillende groottes wat skoongemaak is en vul dit dan met kerse van verskillende kleure en groottes. Die glas gee veral ‘n mooi skynsel in die aand met die kersvlamme wat teen die kante weerkaats. Die glasbottels keer ook dat die kersvlam nie doodwaai nie.
BOTTEL DIT
Vul klein bottels met ongeveer ‘n halwe pakkie klein kraletjies en maak seker daar’s verskillende kleure in. As die bottels klaar gevul is, bind dit om die nekgedeelte aan mekaar met ‘n sisaltou vas. Laat 6 cm tot 8 cm tussen elke bottel. Laat ‘n lang stuk sisaltou voordat botteltjie vasgebind word. Dit word gebruik om botteltjies aan voorwerpe vas te bind. Jy kan dit as ‘n kleurryke versiering aan die diefwering of die gordynreling vasbind.
DRYWENDE BLOMME
Gebruik drywende glassirkels en sit vars blomme binne-in. Hierdie glassirkels kan op ‘n dammetjie gebruik word of in ‘n mooi bak wat op die koffietafel of op ‘n eetkamertafel as ‘n fokuspunt gebruik word.
WAAR OM DIT TE KRY?
Consol het twee vertoonkamers, een in Woodmead (Johannesburg) en een op Stellenbosch. Jy kan daar verskillende soorte glasbottels koop. Die klein bottels wat met kraletjies gevul is, word in groot bokse van 100 met kurkdoppies verkoop. Die glassirkels word ook in pakke van ses verkoop. Bel Consol by 011 341 0227
SOURCES
Elmarie Knapton