Maak ‘n mooi piouterhakskoen vir jou spieëlkas
Marlo Kitshoff-Carstens
Gebruik laereliëfpiouter wat deur ‘n embosseer- of Cuttlebug-masjien gedruk word. Geen was word gebruik om patrone mee te vul nie.
Dit is ‘n maklike metode en afwisseling om piouter te gebruik, maar steeds die piouter-effek te kry.
BENODIGDHEDE
embosseermasjien
geëmbosseerde plate
1 keramiekskoen
6 stukke piouter van 11 cm x 16 cm
skêr
watte
spiritus
patina
sneespapier
Brasso
Bostik-gom
10 cm swart vilt
kleurlose spuitvernis (opsioneel)
Om te begin
1 Gebruik drie verskillende soorte plate van die embosseermasjien wat bymekaar pas, soos rose en verskillende krulletjies.
2 Plaas die piouter tussen die plate en druk dit deur die masjien sodat die masjien die piouter kan embosseer.
WENK As jy nie ‘n embosseermasjien het nie, kan die piouter bo-oor ‘n embosseerplaat geplaas word en met ‘n papierpotlood of ‘n harde handwerkrollertjie gedruk word totdat die patrone van ‘n embosseerplaat vorm
Stappe vir piouter
1 Maak die piouter skoon met watte en spiritus. As daar vetkolle op die piouter is, sal die patina nie daarop vat nie.
2 Plaas genoeg patina op ‘n stukkie watte. Vee die patina bo-oor piouter. Patina verdonker die piouter.
3 Klad oortollige patina met ‘n sneesdoekie. Te veel patina kan die piouter brand, so moenie die patina te lank op die piouter laat lê nie.
4 Laat patina eers ‘n bietjie droog word, so 2 minute.
5 Vee Brasso bo-oor piouter en vryf met vinnige, aanhoudende bewegings in een rigting om ‘n blink effek te verkry.
6 Wanneer watte te swart raak, kan ‘n nuwe stukkie gebruik word. Doen dit met al die piouterplate.
Stappe vir piouter
Piouter word altyd in hierdie volgorde behandel om die pioutereffek te verkry:
1 Spiritus
2 Patina
3 Brasso
Vorm die piouter om skoen
1 Gebruik een van die klaar pioutervelle en begin by die hak van skoen. Vorm piouter om die hakgedeelte en knip die oortollige piouter met ‘n skêr weg. Maak net seker dat die piouter ver genoeg om die kant van die hak gaan sodat daar nie later ‘n wit gedeelte (keramiek) uitsteek nie.
2 Plak die piouter met Bostik vas.
3 Vorm van die ander klaar piouterplate om die sykante van skoen. Knip weer met skêr waar nodig.
4 Plak die sykante se piouter ook met Bostik vas.
5 Vorm die voorste neusgedeelte van skoen. Maak kepies met skêr, veral om die voorpunt van skoen, en druk en vou totdat dit mooi netjies pas.
6 Haal gevormde pioutergedeelte af. Smeer genoeg Bostik op skoen en skuif gevormde piouter bo-oor.
7 Laat die skoen oornag droog word.
Viltafronding
1 Sny die vilt volgens die patrone uit.
2 Smeer genoeg Bostik aan die vilt en plak die binnekante en onderkant van die skoen met vilt.
3 Maak seker dat vilt netjies met die kante van skoen ooreenkom.
4 Gee die klaar piouterskoen ‘n finale poets sodat dit blink en sonder enige vingermerke is.
WENK Jy kan ook ‘n lagie kleurlose spuitvernis bo-oor spuit sodat die piouter mooi bly
Skoen van keramiek is by The Clay Club beskikbaar 012 346 1751
Piouterskoen ontwerp deur Elna Kleinkans. Kontak haar by 082 372 4740 of besoek www.withpewter.co.za
SOURCES
Andrea Caldwell