Maak van ‘n vervelige area ‘n fokuspunt
MARYKE ROBERTS
Ligte is ’n maklike manier om jou dekorstempel op ’n vertrek af te druk en is veral die antwoord as jou spasie klein is en jy nie regtig muurspasie het om te versier nie; of as jy van ’n minimalisitiese voorkoms sonder te veel fieterjasies hou, maar tog ’n dramatiese indruk wil skep.
Scherre Mattheyse van Vredenberg Landgoed buite Somerset-Wes hou van neutrale kleure en ’n manlike dekorstyl, maar het steeds besluit om haar eetkamerligte in ’n treffende groepering te hang. Volg haar voorbeeld en gebruik die groepering van ligte of ander dekor-items vir treffende fokuspunte, sonder om skoon, eenvoudige dekor in te boet.
As jy besluit op ligte, hang die ligte ewe ver uit mekaar, maar teen verskillende hoogtes; of gebruik een plafonroos met ’n klomp drade wat uitloop na ’n versameling lampskerms wat soos ’n onderstebo bos blomme hang. Of wees waaghalsig en draai ook die lampskerms onderstebo vir ’n boheemse gevoel.
Maak ’n lang vaal gang indrukwekkend deur ’n fokuspunt te skep met ’n groepering van klein skilderye met dieselfde tema soos landskappe, blomme, diere of selfs sport-temas. Groepeer drie, vyf of sewe ou tennisrakkette teen die muur as die sport jou of jou familie na aan die hart lê.
Die eetkamer is die ideale plek om al jou ouma se kursiewe silwerskinkbordjies teen die muur saam te groepeer. Badkamers is weer ideaal vir spieëls van alle vorme en dis ook lekker om jou eie klein versameling te begin, deur by elke interessante vakansiebestemming rond te kyk vir oulike spieëls vir jou muur.
SOURCES
JAC KRITZINGER