Die keuse van ’n bedlampie is nie bloot net ’n oulike dekor-artikel wat by jou huis se styl pas nie, dit vervul ook ’n praktiese rol. As jou bedkassie kleinerig is en jy hou van boeke, blomme, handeroom en water voor jou bed, kan jy altyd ’n hangkandelaartjie inspan, wat ruimte op jou bedkassie skep.
Maryke Roberts
Hier is ’n paar ander idees vir bedlampies
• Hang drie of vier klein lampskerms wat in verskillende materiaal oorgetrek is, so half bo-oor mekaar teen verskillende lengtes langs jou bed. Herhaal aan die ander kant van die bed, maar skommel die volgorde so effens en gebruik verskillende lap.
• Oorweeg swanenek bedlampies wat weerskante van die bed teen die muur vasgeskroef word. Plaas dit so halfpad tussen die bed se kopstuk en die middel van die bedkassie. Dit bied lekker leeslig, maar verlig ook jou bedkassie voldoende.
• Koop twee moderne konsertina bedlampies wat aan jou bed se kopstuk vasskroef, of as jy ’n materiaal kopstuk het, word dit dwarsdeur die materiaal gedruk en agter uit die oog, vasgemaak. Dit kan teruggevou word as jy dit nie gebruik nie, maar bied verstelbare lig wanneer jy in die bed wil lees.
• Installeer ’n boekrak wat bokant jou bed se kopstuk loop. Pak boeke en ornamente daarin en bring dan ’n LED strooklig onderaan, wat van voor nie sigbaar is nie, maar as leeslig en bedkassie-lamp kan diens doen.
SOURCES
Jac Kritzinger