Dis asof mense deesdae die gesondheidswaarde van binnenshuise plante herontdek en oral kry jy plantstaanders te koop.
Hierdie outydse een het deur die jare waterskade gekry en so hittete op die ashoop beland, maar ek gooi nie sommer iets weg nie In my ouma se voorkamer, 50 jaar gelede, het presies so ’n plantstaander met die weligste varing in gestaan en die spore aan die onderkant van die blare het ons kinders gefassineer. Met ’n wêreld wat oorloop van te veel goeters wat ons weggooi, probeer ek om als te hergebruik, omdat dit ons omgewing bewaar, maar ook omdat dit gewoon geld spaar. As jy in pandjieswinkels gaan rondsnuffel, gaan jy iewers so ’n staander te koop kry. Hier is ’n idee om dit weer spiekeries te laat lyk.
Voorbereiding
Skuur die jare se vernis en olie eers goed af. Maak die staander oraloor goed met spiritus en ’n opwassponsie skoon en vee dit dan deeglik met ’n klam lap silwerskoon.
Produkte
Ek het net Granny B’s Old Fashioned Paint se produkte gebruik. Die verfkleure (twee lae) is Dove Grey op die kantpanele, aan die binnekant en die patroonwerk. Liquid Metal Gold op die pote, raamwerk, onderkante en patroonwerk. Die dele van die transfer wat ek gebuik het, is Rose & Rouge (loer op www.grannyb.co.za vir meer inligting oor dié produkte) en die staander is met Granny B se Armour geseël (drie lae).
Stappe
- Verf eers die hele staander in die verlangde kleure (twee lae) en seël dit deeglik sodra dit goed droog is.
- Die patroon op die onderste blad het ek eers presies gemeet en met potlood getrek en toe blokkie vir blokkie met die hand geverf (gebruik ’n kunstenaarskwassie hiervoor). Ek het twee dae gewag voordat ek dié blad geseël het.
- Sny en plak die transfer volgens jou eie ontwerp en seël dit.
- Seël die hele staander weer vir oulaas.
Verfprodukte van Granny B’s Old Fashioned Paint. Kontak Yolande Terblanche (082 448 7117) om uit te vind waar jy die verf kan koop. www.grannyb.co.za en op Facebook, Granny B’s Old Fashioned Paint
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.