Dié kas het ek tweedehands gekoop om te wys hoe ’n primen- proper-kas van toeka se tyd in ’n kas met panache kan verander om deel van hedendaagse dekor te word
Van hierdie tipe kaste het ek as kind net mooi niks gehou nie. Dit was vir my donker, swaar en ’n vertrek vol van dié meubels het my oombliklik depressief gemaak. Die kamers se gordyne was ook meestal toe – dit was pal skemer binne en mens het gefluister. Dalk het jy so ’n erfstuk van ’n geliefde ouma in jou motorhuis wat jy om sentimentele redes nie wil weggee nie, maar dit pas nie by jou huis se dekor nie. Daar is mense wat die piep kry as jy met ’n verfkwas naby hierdie meubels kom, maar ek maak eerder iets wat vir my mooi en nuttig is as wat dit nêrens pas nie of iewers stof vergaar. Ek hou daarvan om meubels soms gedeeltelik te verf sodat van die oorspronklike hout nog sigbaar is – dis mos deel van die meubelstuk se storie.
Voor
STAP 1 Voorbereiding
Skuur die kas baie goed af – jy wil van die jare se ou olie en vernis ontslae raak. As jy dit nie doen nie, gaan dit deur die verf “bloei” en bruin vlekke maak. Vee die kas goed met ’n spirituslap en daarna met ’n klam lap af om alle stof te verwyder. Seël die blad en pote en ook die binnekante, wat nie geverf word nie, met minstens twee lae Granny B Armour.
STAP 2 Verf
Verf minstens twee lae Midnight Blue op die een sykant, blad se rand, laaie (binne en voor), rakke, agterkante en binnekant van die deur en seël met twee lae Armour. Verf minstens twee lae Cherry Jam op die deur se voorkant, die ander sykant, die rak en agterkant van die vensterdeel en die voorste raamwerk. Seël met Granny B.
STAP 3 Découpage
Découpage die rakke en die onderste laai (gebruik Armour) met geskenkpapier om dit te plak en seël.
STAP 4 Transfers
Ek het dele van drie verskillende transfers gebruik: Passion Flower, Boho Bird Butterfly en Spring Radiance. Sny en monteer die transfers volgens jou ontwerp en seël met minstens twee lae Armour (kyk op www.grannyb.co.za vir meer inligting oor dié produkte).
STAP 5 Afronding
Seël oral weer met Armour. Gebruik Granny B se Black Magic Waxing Cream op die deur (om die rooi effens te verdof) en gebruik Pappa G’s Gilder’s Paste (German Silver en Antique Gold) op die kronkels van die deur, rande van die blad en laaie en die blou kantpaneel waar dit en die voorkant bymekaarkom om dimensie en definisie te gee.