Die meeste mense wat ek ken, het al ’n mandjiekas langs die pad gekoop omdat dit bekostigbaar en prakties is, maar dié kassies lyk almal dieselfde. Hier is ’n idee om só kassie ’n unieke voorkoms te gee
Met hierdie projek wou ek wys wat jy met Granny B’s Old Fashioned Paint se verf en transfers kan regkry en ek wou die kassie laat lyk asof dit in ’n Engelse konservatorium in die vorige eeu tuis hoort. Dis nie ’n naweekprojek nie. Die projek het lank geneem en ek het dit laag op laag gedoen om die finale voorkoms te kry. Dis ’n projek wat ontwikkel soos wat jy vorder.
Stap 1 VOORBEREIDING
Sorg altyd dat die meubelstuk skoon is voor jy begin – hierdie kassie het ek eers afgeskuur omdat dit verskeie lae verf op gehad het en toe baie goed met spiritus skoongemaak. Meet en laat hardebord sny om die agterkant en sykante mee toe te maak (gebruik klein spykertjies vir dié doel).
Stap 2 VERF
Verf een laag Daisy White binne, buite en onder. Verf twee lae Overcast binne en buite.
Stap 3 SEëL
Seël oraloor met Granny B se Armour.
Stap 4 TRANSFERS
Ek het dele van drie verskillende transfers gebruik (kyk op www.grannyb.co.za): Imperial Garden, Fern Woods en Nature and Scripts met Golden Girl Rub-on Foil Sheets. Jy hoef nie die transfers presies soos dit gedruk is te gebruik nie. Sny dit waar jy wil om jou eie ontwerpe te maak. Die aanwysings in elke transfer verduidelik jou presies hoe om die ontwerpe op jou meubelstuk oor te dra (kyk ook op www. grannyb.co.za).
Stap 5 VERF
Verf twee lae Liquid Metal Gold op die blad se kante. Droogborsel met dié kleur ook die kante van die voorste horisontale dele waar die mandjies inskuif en die kante van die pote en hoeke van die kas en waar jy voel dis nodig en seël die hele kas weer.
Stap 6 AFRONDING
Gebruik Black Magic Waxing Cream om die goud se blink te verdof en om ’n gebruikte voorkoms te skep. Hierdie stap verg konsentrasie en vinnige werk en moet in een stap gedoen word anders maak jy merke. Sit die produk oral oor rofweg met ’n kwas aan (toets dit eers op ’n plankie) en vryf dit bykans onmiddellik met ’n ander kwas skoon sodat jy die verlangde effek kry. Seël oral weer met twee lae Armour. Sit koperwieletjies aan. Ek het myne by Orejen in Linden, Johannesburg gekoop (soek hulle op Facebook en Instagram of bel hulle by 011 888 681 en meld dat jy van hulle by Vrouekeur gehoor het).
Verfprodukte van Granny B’s Old Fashioned Paint. Kontak Yolande Terblanche (082 448 7117) om uit te vind waar jy die verf kan koop. www.grannyb.co.za en op Facebook, Granny B’s Old Fashioned Paint
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.