Hierdie bont koffietafel is nie ’n naweekprojek nie. Die handgeverfde blokkies en stensilwerk is tydrowend, maar die resultaat maak dit deur en deur die moeite werd
Een dag lank, lank gelede in ’n vorige lewe was dié koffietafel ’n eetkamertafel. Dié tafel kom ’n lang pad saam met my en ek het die blad al jare gelede in die helfte en die pote korter laat saag om dit as ’n koffietafel te gebruik. Uiteraard is die houtwerk nie meer oral waterpas nie en soos wat dit met ’n ouer lyf die geval is, is daar hier en daar ’n duik en ’n letsel. Ek hou van kleur en met dié projek kon ek na hartelus met bont kleure en patrone speel.
Voorbereiding
Jare se olie op die Oregon-dennehout moes ek baie goed afskuur en met spiritus en fyn staalwol skoonmaak. As jy so ’n meubelstuk nie behoorlik skoonmaak nie, gaan die olie deur die verflae bloei en ’n bruin skynsel gaan deur die verf wys sodra jy die meubelstuk seël. Jy kan in so ’n geval dalk eerder eers ’n laag Zinzer-verf as onderlaag opsit – dit help ook om die olie wat ingetrek is, te seël voor jy met jou Granny B-verf begin. Ek het net produkte van Granny B’s Old Fashioned Paint gebruik.
Stap 1
Verf twee lae Daisy White oral en laat die verf minstens ’n dag om droog te word.
Stap 2
Sny en plak die dele van die transfer wat jy gebruik uit volgens jou eie ontwerp. Ek het dele van Rose & Rouge op die blad en sypanele gebruik.
Stap 3
Seël die hele blad en sypanele twee keer met Granny B se Armour (matt) – wag tussen die lae om droog te word.
Stap 4
Trek die blokkies liggies met ’n potlood en liniaal op die blad.
Stap 5
Verf elke blokkie volgens jou kleurskema. Gebruik ’n plat kunsverfkwas vir die doel. Ek het Liquid Metal Gold, Teacup Green, Red Velvet, Dove Grey en Strawberry Cupcake net so gebruik. Die ander kleure het ek gemeng om die verlangde skakerings te kry. Die oranje se basis is General Lee, die blou se basis is Icicle Blue en die geel se basis is Daffodil.
Stap 6
Seël die hele blad weer as die verf goed droog is.
Stap 7
Verf elke blokkie ’n tweede laag.
Stap 8
Stensil die blokkies volgens jou eie ontwerp.
Stap 9
Stensil die dele tussen die transferpatrone volgens jou keuse.
Stap 10
Seël die hele blad weer twee keer sodra die verf goed droog is.
Stap 11
Verf die pote se onderste dele met Liquid Metal Gold (drie lae) en seël ook met Armour sodra dit goed droog is.
Stap 12
Seël die tafel vir oulaas oral.
Stap 13
As jy seker is als is kurkdroog, sit ’n dun lagie Cobra-politoer oral aan en wag so 15 minute voor jy dit met die sagte kant van ’n opwassponsie afvryf. Dit gee ’n ekstra seëllaag.
Verfprodukte van Granny B’s Old Fashioned Paint. Kontak Yolande Terblanche (082 448 7117) om uit te vind waar jy die verf kan koop. www.grannyb.co.za en op Facebook, Granny B’s Old Fashioned Paint
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.