’n Kombinasie van verf, découpage en ongeverfde hout skep ’n Boho-voorkoms
Dié kassie het ek vir ’n appel en ’n ei gekoop, maar dit het 88 lae olie en vernis opgehad. Die probleem is dat oorblyfsels soms, ten spyte van afskuur, steeds deurbloei. Ek het voorsien dat dit die geval met hierdie kassie gaan wees en het besluit om eerder découpage te gebruik om die probleem te oorkom en ek wou ook die rou voorkoms van die hout plek-plek behou. My hoofoogmerk was egter om ’n kassie met ’n boheemse voorkoms te skep.
Voor
Voorbereiding
Skuur die kas oraloor baie goed af. Ek het ’n skuurmasjien gebruik. Maak die kas verder skoon met spiritus en fyn staalwol en vee die kas dan baie goed skoon voor jy begin verf.
Stappe
Ek het die hele kas met twee lae van Granny B’s Old Fashioned Paint se Daisy White geverf en toe dit heeltemal droog was, het ek dit met Granny B se Armour Matt geseël. Die pote en die boonste oppervlak en kante het ek een laag Overcast gegee en toe plek-plek geskuur om ’n verweerde voorkoms te kry. Die binneste raampies van die kantpanele het ek met Cherry Jam geverf.
Découpage Vir die binneste rakke het ek Armour gebruik om te découpage en ek het dun servette vir dié doel gebruik. Onthou om al die lae van die servet af te trek sodat jy net met ’n enkellaag waarop die patroon is, werk. Vir die kante het ek papierdun geskenkpapier gebruik. Ek het die dele met découpage deeglik met drie lae Armour geseël.
Rou houtpanele Ek het hierdie dele net met twee lae Armour geseël.
Transfer Die skrif op die boonste oppervlak en die blare teen die muur is dele van twee verskillende transfers wat eksklusief deur Granny B in Suid-Afrika verskaf word.
Afronding Nadat als klaar was, het ek die hele kas weer oraloor een laag Armour gegee om seker te maak dis behoorlik geseël.
Verfprodukte van Granny B’s Old Fashioned Paint. Kontak Yolande Terblanche (082 448 7117) om uit te vind waar jy die verf kan koop. www.grannyb.co.za en op Facebook, Granny B’s Old Fashioned Paint