Twee ordinêre houtkassies is nou unieke bedkassies wat soos ’n handskoen in hierdie huis met ryk en dramatiese dekor pas
Die kliënte vir wie ek hierdie kas nuut gemaak het, hou van juweelkleure en goud in hul huis en reis graag. Ek wou dié liefdes in die kassies sigbaar maak. As ek aan ouwêreldse ontdekkingsreise dink, sien ek in my geestesoog skepe, ’n kompas, kaarte en ’n bietjie later ook handgeskrewe poskaarte. Granny B’s Old Fashioned Paint se transfers met hierdie elemente as tema, is ideaal vir die projek. Siende dat hulle van goud hou, het ek goudkleurige elemente ook ingespan.
Voorbereiding
Skuur alle ou olie en vernis goed af. Vee daarna als met spiritus op ’n opwassponsie en dan met ’n klam lap af.
Verf
Alle produkte vir hierdie projek is van Granny B’s Old Fashioned paint en die kassies het albei een laag Teacup Green en een laag Midnight Blue op en is daarna met Armour geseël. Die laaikassie se voorste raamwerk en die ander kassie se voorste paneel onder die blad het ek nie geverf nie omdat ek daarvan hou om soms die oorspronklike hout plek-plek te behou. Albei blaaie se rande en die laaikassie se pote het drie lae Liquid Gold en ’n laag Armour op.
Transfers
Ek het hoofsaaklik dele van verskillende transfers gebruik (Old World, On a Voyage, Gilded Inlay Scrolls en Gilded Baroque). Sny die afbeeldings uit en wend dit volgens jou eie ontwerp aan – ek het dit soms in lae bo-op mekaar gedoen. Seël met minstens twee lae Armour. Die finale produk het ek geskuur sodat die verf plek-plek deurkom en hier en daar het ek ook die hout in die skuurproses laat deurkom vir ’n verweerde voorkoms.
Stensilwerk en strepe
Die een kant van die laaikassie is met strepe en ligte stensilwerk in Liquid Metal Gold geverf.
Afronding
Pappa G’s Gilded Paste is ’n wonderlike produk en die Rich Gold is ideaal om die goud op die blaaie se rande te verdiep. Seël aan die einde weer met twee lae Armour oraloor.
Verfprodukte van Granny B’s Old Fashioned Paint. Kontak Yolande Terblanche (082 448 7117) om uit te vind waar jy die verf kan koop. www.grannyb.co.za en op Facebook, Granny B’s Old Fashioned Paint
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.