’n Verspotte klein venstertjie en ’n lendelam wiegstoel, wat amper weggegee is, was die inspirasie vir hierdie projek wat jy maklik met ons stap-vir-stap-aanwysings kan doen
Deur: ELDALEEN HUGO
Nicolas de Beer van The Bamboo Palace het weer eens sy towerkwas geswaai en met die hulp van Granny B’s Old Fashioned Paint ’n wiegstoel wat beter dae geken het, in iets besonders omgetower. Dié stoel het nou ’n plek in ’n hoek gekry en ’n muur met ’n klein venstertjies, wat na niks gelyk het nie, het sommer terselfdertyd ’n fokuspunt geword.
Voor
Tydsduur
Dié projek het vyf uur geneem om te voltooi, benewens die afskuur, wat ’n uur geneem het.
Verfprodukte
Granny B’s Old Fashioned Paint (Red Heart Love, Dove Grey, General Lee) en Granny B’s Armour Matt om te seël.
Produkte voorsien deur Granny B’s Old Fashioned Paint www.grannyb.co.za en Facebook, Granny B’s Old Fashioned Paint
Stap 1
Skuur die stoel met 220-grein-skuurpapier ter voorbereiding. Gebruik ’n verfskraper se lemmetjie en volg die lyne van die boë om die hout effens meer te laat deurkom. Draai die stoel om en sit dit bo-op iets wat stewig staan voor jy begin verf.
Stap 2
Verf die hele stoel stuk vir stuk met die rooi verf. Ons het Granny B se Red Heart Love gebruik. Verf rof – nie met netjiese hale nie – beweeg jou gewrig liggies heen en weer terwyl jy verf en hou die kwas soos ’n pen vas.
Stap 3
Sodra die verf droog is (wag sowat ’n uur in warm weer), skuur jy die effense growwigheid baie liggies met die growwe kant van ’n skoon opwassponsie. Vee die stoel af en verf Granny B se Armour Matt met ’n kwas oor al die geverfde dele om die verf te seël. Wag weer om en by ’n uur tot die seëlaar droog is.
Stap 4
Wend nou Granny B se Dove Grey met ’n klein kunskwassie (plat gehou) op die kante aan. Met die aanwending van die donker kleur moet jy vinnig werk en sommer jou hande gebruik om die streep verf liggies in te vryf. Moenie bekommerd wees oor “foute” nie – die lyne moenie perfek wees nie.
Stap 5
Wag weer ongeveer ’n uur en skuur weer liggies met die sponsie se growwe kant om die oppervlak glad te maak. Meng nou van die rooi verf met Granny B’s Armour Matt (meng totdat jy die rooi kry wat jy soek). Sorg dat jy twee kwasse byderhand het. Met die een verf jy die rooi verfmengsel bo-oor die verf. Verf vinnig (met min verf op die kwas) en gebruik ’n sagte droë borsel om soos wat jy klaar geverf het, bo-oor die pas geverfde dele droog te borsel. Jy sal sien dat die strak donker lyne nou die regte effek kry – dit raak ’n meer subtiele buitelyn. Die ekstra rooi laag, bring ook die rooi duideliker na vore.
Stap 6
Laat weer ’n uur om droog te word. Die stoel is nou geverf en geseël en reg vir die volgende stap. Gebruik gewone Cobrapolitoer en wend dit oral met ’n sagte lap aan (ek vind dat ou T-hemp-materiaal die beste werk). Wanneer jy klaar is, vryf met ’n stewige greep oraloor met die boonste sagte kant van die sponsie totdat die stoel ’n professionele en afgewerkte voorkoms het (ek hou daarvan as dit so effense glans het, maar nie blink nie). Ek wend so elke drie maande weer ’n bietjie politoer aan vir mooigeid.
Wenk
Ou rame het spieëls ingekry en met Granny B se kleure, General Lee en Red Heart Love, het ’n dooie muur lewe gekry. Ek het Granny B’s Classic Seal met die tweede laag verf op elke raam gemeng om dit te seël en dieselfde stappe met die sponsie se growwe en sagte kante gevolg en met Cobrapolitoer afgerond.