Dié projek het twee mense baie opgewonde gemaak en die een beweer sy het nou die mooiste pophuis in die hele wêreld. Hier is die stappe om ’n pophuis te verf
Deur Eldaleen Hugo en Ziani Esterhuizen
Voor
As kind was een van my groot begeertes ’n pophuis. Ek was en is vandag nog mal oor enigiets in miniatuurformaat. Toe kollega Zerelda Esterhuizen se dogter, Ziani, haar pienk pophuis van vyf jaar gelede ontgroei het en besluit het sy wil nou ’n pophuis hê wat vir ’n negejarige sal werk, was ek vuur en vlam. Ek en sy het ons verfklere aangetrek en met ’n huisopknapprojek begin. Aan die ewige pienk vir dogtertjies het ek in elk geval ’n kleintjie dood en Ziani het presies geweet watter twee hoofkleure ons moes gebruik – grys en turkoois is tans haar gunstelingkleure. Ons is baie in ons noppies met die eindproduk en my kinderdroom van my eie pophuis het so ’n bietjie waar geword.
Proses
Al die “mure” het nuwe oppervlaktes gekry. Enersyds omdat g’n huis hartjies vir venters het nie en andersyds omdat die houtoppervlaktes te grof was om découpage op te doen. Hardebord (masonite) is op die buite- en binnekante gebruik om die “nuwe mure” met paneelspykers vas te sit.
Eerste stappe
Die hele huis is eers met een laag Daisy White van Granny B’s Old Fashioned Paint geverf en met Granny B Armour geseël. Die mure is daarna met onderskeidelik Daisy White (’n tweede laag), Grain Sack en ’n mengsel van Hurricane en Grain Sack (50/50) geverf. Die vloere en plafonne het Daisy White op. Die dak se kleur was ononderhandelbaar – Ziani wou dit met Tropical Cocktail verf.
Meubels en ander detail
Ek het prente op die internet gekry en in die regte groottes laat druk om die vensters, boekrak en kante van die huis mee te découpage sodat dit soos ’n rêrige huis lyk. Bykans al die meubels in die huis het Ziani reeds gehad, en behalwe die yskas, het al die meubels met verf nuwe lewe gekry. Die ligte is blik-eierkelkies en met die Hurricane-mengsel buite en Daisy White binne geverf. Elkeen hang aan ’n kettinkie, geryg deur ’n gaatjie wat aan die toe kant geboor is, aan hakies wat teen die plafon ingedraai is. Twee batteryliggies is teen die boonste en die onderste vertrek se plafonne geplak, want ’n mens wil nie net speelspeel- ligte in ’n pophuis hê nie
Badkamer
Die pienk bad en toilet van plastiek is met Dove Gray en Daisy White geverf. Die badkamermat is ’n oorskietstukkie geskenkpapier wat met découpage vasgesit is en die een muur het stensilwerk in Daisy White op. Die vier “skilderye” is miniatuurweergawes van prente op ’n almanak wat ek al bykans 20 jaar lank bêre en wat ek ook met découpage vasgesit het.
Slaapkamer
Die kas in die slaapkamer is met Daisy White en die deure met die Hurricanemengsel geverf en met Daisy White bo-oor gedroogborsel. Die bed het ek met ’n stukkie oorskietplank, hardebord en houtpennetjies aanmekaargesit en die kopstuk (hardebord) is mooi gemaak met ’n papierservet wat met découpage daarop vasgesit is. Die spieël het ek laat sny en houtstrokies (met Dove Grey, Daisy White en Gold Liquid gedroogborsel) vorm die raam.
Kombuis
Die kombuiskas het ook Daisy White op en die deur is met Dove Grey geverf om die swartbordeffek te gee. Die “teëltjies” op die stoof is met découpage vasgesit en die verfkleure is die Hurricane-mengsel en Dove Grey.
Leefvertrek
Die mooi rooi bank is met Red Heart Love nuutgemaak en die bont rugkant se “bekleedsel” is ook “teëltjies” wat met découpage vasgesit is. Die mat is met ’n stensil gedoen (Red Heart Love, Midnight Blue en GI Jane).
Seël
Ek het deurgaans al die stappe met Armour geseël en aan die einde als weer ’n keer goed geseël.