Grys hoef nie vaal te lyk nie – veral nie as jy etlike skakerings daarvan gebruik nie. Verf hierdie mooi laaikas met chalk paint.
Deur ELDALEEN HUGO
Hierdie laaikas dien ’n nuttige doel in ’n slaapkamer, maar dit was tyd vir ’n nuwe voorkoms. Nicolas de Beer, ons verfghoeroe, wys ons hoe jy te werk moet gaan om van ’n saai laaikas ’n fokuspunt te maak.
Voor
Ons het hierdie produkte van Granny B’s old fashioned paint gebruik:
LAAIKAS Laag 1: hurricane laag 2: mengsel van hurricane en beach sand (en armour matt om te seël ook, vir die laaie)
(van bo na onder)
Laai 1 Vanilla cream
Laai 2 Mushroom
Laai 3 Beach sand
Laai 4 Olive charm
Laai 5 Mengsel van hurricane en beach sand
Pote & binnekant van laaie Mengsel van blueberry pie, tropical cocktail, dove grey en beach sand (droogborsel-gietvorm hiermee)
Voorbereiding
Skroef die handvatsels af en maak die gaatjies met houtvuller toe. Wag tot die houtvuller droog is (dit word vinnig droog) en skuur die laaikas en die laaie liggies met 220-grein-skuurpapier af en skuur dit daarna met fyn staalwol en spiritus om al die jare se goeters op die laaikas, wat ’n mens nie kan sien nie, af te kry. Vee die kas en laaie met ’n nat lap af.
Stap 1
Verf die eerste laag op die laaikas. Hou die kwas soos ’n potlood vas en verf heen en weer. Verf woes, moenie egalige hale verf nie.
Stap 2
Sodra die eerste laag droog is, saag die regte lengte houtstrokie en plak dit met houtgom aan die bokant van die vooraansig vas. Knyp dit met twee klampe vas en laat dit goed droog word. Verf nou die tweede laag op die laaikas – onthou om armour matt by hierdie mengsel te sit sodat jy sommer tegelykertyd die verf seël.
Stap 3
Verf al vyf laaie met die onderskeie skakerings, sodra jy die laaikas se eerste laag geverf het. Sodra jy die laaikas se tweede laag geverf het, behoort die laaie se eerste laag droog te wees. Verf nou elke laai met ’n tweede laag en onthou weer eens om armour matt by te voeg om te seël.
Stap 4
Gebruik 220-grein-skuurpapier en skuur die kante van die laaie liggies af sodat die ou swart verf plek-plek deurkom. Verf die gietvorm en die pote.
Afronding
Sit die nuwe handvatsels, geverfde pote en gietvorm aan. Verf die binnekante van die laaie – onthou om dit met armour matt te meng. Ek hou daarvan om in hierdie stadium die oppervlaktes liggies met die growwe kant van ’n opwassponsie te skuur. Vee al die oppervlaktes dan met ’n droë lap af en om seker te maak als is behoorlik geseël, sit nog ’n laag armour matt oor als (ook die binnekante van die laaie). Sodra jy seker is als is kurkdroog, sny ’n stuk lap van ’n ou t-hemp af en gebruik dit om cobra-vloerpolitoer oral aan te wend. Laat dit telkens sowat vyf minute intrek en vryf dan met ’n ander stuk van die t-hempmateriaal totdat die oppervlakte ’n gladde, afgeronde voorkoms het.
Tydsduur & ekstras
- Hierdie projek behoort jou nie langer as ’n naweek te neem nie.
- Pote: gebruik ou laaihandvatsels en maak dit met tappennetjies (dowels) vas
- Giet vorm: sit dit met klein spykertjies vas (panel pins)
- Houtstrokie: gom dit met houtgom vas
Verfprodukte
Granny B’s old fashioned paint (vanilla cream, mushroom, beach sand, olive charm, hurricane, dove grey, blueberry pie, tropical cocktail en armour matt)
Wenk
Draai hakies aan die kant in om juwele aan te hang