’n Tafeltjie wat soos die lappop op die ashoop gevoel het en ’n ingeboude wynrak wat ’n klein kombuis oordonder het, en die ashoop net-net vrygespring het, is omskep en dié seer oë is nou iets vir die oog
Deur Eldaleen Hugo
Dié wynrak kan jy nou nie miskyk nie
Die ingeboude wynrak van saamgeperste hout en melamien het die eienaars se kombuis oorvol laat lyk en het boonop na niks gelyk nie. Die kas is uitgehaal, skoongemaak en met ’n paar estetiese veranderings en Granny B se Old Fashioned Paint is dié lelike rak nou sowaar ’n mooi rak.
Voor
Metode
’n Ekstra plank saamgeperste hout is aan die een kant vasgesit sodat die kante simmetries is. Harde bord is bo-op vasgesit om ’n gelyk oppervlak te gee en houtstroke gee dimensie aan die kas. Vier houtblokkies (70 cm x 70 cm) en drie mosaïekteëltjies het die pote geword.
Verf
Die binnekant is met Red Heart Love geverf en die kante en nuwe hardebordblad met Olive Charm. Bo-oor die blad en die houtstroke is ’n veegsel Hurricane geverf en met ’n nat lap gevryf om tekstuur te gee. Bo-oor die houtstroke is Olive Charm drooggeborsel. Die twee aluminium-teekershouers bo-op die rak is ook met Red Heart Love geverf.
Na
’n Koffietafel wat jy nou wil hou
’n Tafeltjie wat eens op ’n tyd lang pote gehad het, en lank buite in die wind en weer gestaan het, het dringend ’n pamperlang benodig om weer ’n regmatige plek in die huis te kry. Twee van Granny B se neutrale kleure en ’n mengsel van drie ander kleure is gebruik om hierdie sagte effek te kry.
Voor
Metode
Die tafel is met spiritus skoongemaak. Houtvuller is oral ingespan om gate toe te stop en die hele tafel is goed afgeskuur.
Verf
Die blad is met ’n mengsel van 1/3 Teacup Green, 1/3 Icicle Blue en 1/3 Grain Sack geverf om “Duck Egg”, wat so gewild saam met neutrale kleure is, te verkry. Die res is met Grain Sack geverf en bo-oor die onderste deel van die pote is Hurricane aangevryf en drooggeborsel om tekstuur te gee.
Afronding
Verf Granny B se Armour Matt as seëllaar oraloor aan. Skuur liggies met die growwe kant van ’n skottelgoedwassponsie as dit droog is en vryf laastens Cobra-politoer oral aan. Wag sowat 15 minute en vryf dan deeglik met die sagte kant van die sponsie om ’n afgeronde voorkoms te kry.
Na
Wenk
Jy kan die Armour met die verf meng om direk te seël, maar dis goed om ’n laag of twee Armour op te sit as jy klaar is.