Anlie Janse van Rensburg en haar man, Hardus, het raad gesoek om ’n instapkas met hortjiesdeure in die kombuis-leefvertrek se deure op te kikker ’n fokuspunt te maak. Hier is die stappe
Deur Eldaleen Hugo en Hardus Janse van Rensburg
Hardus het ’n oog vir mooi dekor en het die muur rondom die deure met faux-bakstene geclad, wat reeds ’n groot verskil gemaak het. Hierdie projek het gegroei soos ons gewerk het. Ek en hy het met Granny B’s Old Fashioned Paint ingespring en so tussen die verwery deur het ons oor die binnekant van die kas gepraat.
Die resultaat van ons planne het ’n deurmekaar stoorkas in ’n ekstra vertrekkie omskep waar Hardus en Anlie hul glasware bêre en hul wyn stoor. Hardus het die glasrakke vir die glase en ’n blad bo-ôp die wynyskas ingesit.
Vir die ruimte langs die yskas het Hardus ’n kassie vir ekstra bêreplek gemaak (geverf met Granny B se Black Betty). Die ou lelike lig het hy met ’n mooi een vervang. Die geel mure binne het grys geword en ’n Tretchikoff-afdruk wat uit Anlie se kinderjare kom, het sy laat raam en dit gee die kas sommer nuwe karakter.
Batteryletterliggies bo die deure pas by die New York-styl van hul blyplek en eenvoudige kristalhandvatsels op die deure rond als mooi af.
Voor
Voorbereiding
Maak die deure oraloor silwerskoon met spiritus. Gebruik die growwe kant van ’n opwassponsie vir dié doel en vee die deure daarna behoorlik met ’n klam lap skoon.
Proses
Verf
Ons het eers ’n laag van Granny B se Mushroom op die deure geverf om ’n skoon palet te kry sodat ons kon beoordeel watter kleur gaan werk. Ons het ’n paar kleure getoets en besluit op ’n blou wat met die blou van die muur teen die trap op inskakel. Hiervoor het ons Granny B se Midnight Blue en Icicle Blue in gelyke hoeveelhede gemeng, ’n titsel Grain Sack by die mengsel gevoeg en laastens so drie gooie van Granny B se Armour bygevoeg. Ons het net een laag van die blou mengsel opgeverf en die kante en hoeke van die hortjies liggies met skuurpapier geskuur toe die verf goed droog was om ’n effense verweerde effek te skep en definisie te gee. Daarna het ons oraloor met suiwer Granny B Armour geseël.