Hierdie geel kassie het nie meer in my dogter se huis gewerk nie en boonop is die oorspronklike verf nie reg geseël nie. Sy weet voor ek iets uitgooi, maak ek dit liewer nuut. Ons het koppe bymekaar gesit en groot pret met hierdie projek gehad. Hier is die stappe om ’n draadkassie nuwe lewe te gee
Deur Eldaleen Hugo en Jana Jacobs
Voor
Al hoe meer mense wêreldwyd herontdek die terapeutiese waarde van skeppings- en handewerk. Ek dink dié hedendaagse selfdoen-neiging het daarmee te make dat mense soms wil wegkom van tegnologie, skerms en die gepaardgaande onmiddellike beloning. Om met chalk paint te verf, word al hoe gewilder en daar is mense wat kunswerke daarmee die lig laat sien. Daar is deesdae heelwat soorte van hierdie verf op die mark, maar ek verkies om met produkte van Granny B’s Old Fashioned Paint te werk.
Met hierdie projek het ek net weer eens besef hoe belangrik dit is om die verf behoorlik te seël om te voorkom dat al jouharde werk verniet was. Hierdie geel kassie is met ’n destydse verfproses nie behoorlik geseël nie en uit die “voor”-foto’s kan mens duidelik die resultate sien. Granny B het verskeie soorte afwerkingsprodukte wat almal goed werk, maar ek verkies om als wat ek verf, met Granny B se Armour te seël. Ek seël met minstens twee lae Armour en groot meubelstukke, soos dié kassie, behandel ek ook as laaste stap met Cobra-politoer deur ’n dun lagie politoer met ’n sagte lap aan te smeer en dan 15 minute later met die sagte kant van ’n opwassponsie te poleer. Ek het al olie en rooiwyn op ’n koffietafel wat so behandel is, gemors en dit bloot met ’n nat lap afgevee.
Voorbereiding
Daar is geen manier waarop hierdie kassie perfek kan lyk nie. Daarvoor is dit te oud en dit is oorspronklik nie oral haaks aan mekaar getimmer nie. Jare se gebruik deur verskillende eienaars is ook duidelik sigbaar in die verdere imperfeksie van krake en duike. Ons het dit nie probeer toesmeer nie, want dis deel van die kassie se karakter. Die kassie het ons eers deeglik skoongemaak deur spiritus op die growwe kant van ’n opwassponsie te drup en oral goed af te vee om van vetterigheid en vuilheid ontslae te raak. Daarna is die hele kassie met ’n klam lap afgevee. Die sykante se binnepanele was egter net te skeef en het my gepla. Ons het houtstrokies aan weerskante vasgesit om die skeefheid te verdoesel.
Verfproses
- Drie lae Granny B’s Old Fashioned Paint se Daisy White was nodig om die heldergeel toe te kry. Dié verf is met een laag Armour geseël voordat die volgende stap aangepak is.
- Die binnekante en die voorkant se raamwerk het twee lae Hurricane en een laag seëlaar gekry.
- Die houtstrokies aan die kante het een laag Hurricane op en is liggies met Liquid Metal Gold en Daisy White gedroogborsel.
- Die gekrulde kant van die blad en die boonste laai het twee lae Gold Liquid op en een laag seëlaar.
- Op die onderste laai het ons met Liquid Metal Gold op die Daisy White gestensil en om definisie te gee, het ons die laai se kante met Liquid Metal Gold gedroogborsel. Ons het ook die skarniere en hoeke waar die dele bymekaar kom en onderaan die voetstuk met Hurricane en Liquid Metal Gold gedroogborsel om die verweer uit te lig en karakter te gee.
- Die ogiesdraad het een laag Daisy White op.
- Die hele kassie is weer oraloor met Armour geseël en toe met Cobra-politoer behandel.
- Ons het die spieël en die blompot ook met twee lae Liquid Metal Gold geverf en met twee lae Armour geseël.