Met inheemse plante kan jy jou kustuin laat floreer – sommer bo-op jou dak en trappe ook.
Maryke Roberts
Charlie en Milly Rohland van The Green House Garden and Home co. op Pringlebaai gee die volgende wenke vir lesers wat sukkel om hul kustuine teen die Kaapse kuslyn te vestig en mooi te hou:
Eerstens moet jy besluit op ’n inheemse tuin. Die Kaapse kusstreek is ’n swaar omgewing vir plante en jy moet na die natuur kyk om te sien wat daar groei voor jy besluit. Kyk na watter plante nie deur die sout seelug of suurgrond benadeel word nie.
Van watter kant waai die wind en wat wil jy met jou tuin bereik: skuiling, privaatheid of wil jy voorkom dat sand rondwaai. Dis alles faktore om in ag te neem met jou beplanning.
Jou tuin hoef nie net uit plante te bestaan nie. Harde elemente wat teenoor die sagtheid van plante in jou fynbostuin staan, kan baie effektief wees.
Gebruik die volgende in jou tuin
• klein paadjies en kuierhoekies
• dink aan interessante klippe of bas (die grootste, swaarste bas om te verhoed dat dit wegwaai).
• ’n Biddum-lap is nodig onder jou klippe of bas, om te keer dat die onkruid van onder deurgroei.
Vyf plante wat goed aan die Kaapse kus werk
1 Vir ’n windbreek is die kus vaalbos (Brachylaena discolor) baie goed. Kies kleiner struike met dunner stamme in plaas van een dik stam, want dit verdra die wind beter.
2 Vir duinerehabilitasie is die suurvy ideaal. Dis gehard, verg min aandag en groei vinnig. Dit neem vinnig oor, so moenie te naby aan ander plante plant nie.
3 Vir sanderige grond is die Konfettibos ’n goeie keuse. Dis ’n nefie van boegoe, ruik baie lekker en is oortrek met of wit of pienk blommetjies. Dit lok bye en skoenlappers.
4 Vir rots- of vertoontuine is aalwyne en vetplante die beste. Ons verkies die Wes-Kaapse spesies soos die kransaalwyn of die varkoor en vir ’n malle kleurespel, is vygies ’n staatmaker. Hulle is waterwys, gehard en verg geen instandhouding nie.
5 As jy bome wil plant, bly die boekenhout ’n eerste keuse. Dis nie net ’n majestueuse boom nie, maar groei ook vinniger as ’n melkhoutboom. Onthou egter: As jy teenaan die see bly, gaan geen boom vreeslik hoog groei nie.
SOURCES
Jac Kritzinger