Daar is ’n paar langnaweke op pad, maar jy bly in Johannesburg en ry met Jan Tuisbly se karretjie, wat kan jy doen? Ons het ’n lys met ’n paar lekker uitstappies in dié geweste opgestel.
Deur: Dané de Klerk
1. Leer die stad ken op ’n “Hop on hop off”-bus
Spring op die bus en sien toeriste-aantrekkings soos die militêre museum, Johannesburg se dieretuin, Constitution Hill, die “Roof of Africa”-uitkykvlak op die 50ste verdieping van die Carlton Centre en vele meer!
Koste: Begin by R160 vir volwassenes
Meer inligting: City Sightseening South Africa
2. Melville Koppies
Vat jou hele gesin (kinders en honde ingesluit!) en gaan vir ‘n vroegoggendstappie in die pragtige natuurreservaat in die hartjie van Johannesburg. Maak dan ná die tyd sommer ‘n draai by 27 Boxes wat ook in Melville is (meer inligting by nommer 13)
Koste: R60 per volwassene en R30 per kind vir ‘n begeleide toer
Meer inligting: Melville Koppies Nature Reserve
3. Maboneng-distrik
Doen jouself ‘n guns en gaan besoek Maboneng in Johannesburg se middestad. Daar is baie om te sien, te doen en veral te eet! Daar is koffiewinkels, ‘n brouery (SMACK! Republic,) ‘n distilleerdery (Time Anchor), ‘n bakkery (Babette’s Bread), ‘n braairestaurant (Sharp Braai) of selfs ‘n bioskoop!
Koste: Hang af wat jy besluit om te doen of waar jy eet
Meer inligting: Maboneng Precinct
4. Rits rond deur Jozi op ’n tuk-tuk
E-tuktuk se kantore is in Melville, wat beteken dat jy na enige plek binne ‘n radius van 7 km in ‘n tuk-tuk vervoer kan word – van Melville tot Linden, Parkhurst, Rosebank, Saxonworld, Albertville en Newlands!
Koste: Begin by R20 per rit
Meer inligting: e-tuktuk
5. Living Room
The Living Room is in Maboneng en is die ideale plek om die stad en die natuur terselfdertyd te geniet.
Koste: Verskillende pryse
Meer inligting: Livingroom Jozi
6. Geniet ’n drankie by die Sandeck by Sandton Sun
Kom beleef ‘n ongelooflike sonsondergang in die hartjie van Sandton by die Sandeck. Daar is drie groot vuurputte, gemaklike sitplekke, lewendige musiek en natuurlik jou geselskap wat vir ‘n onvergeetlike ervaring gaan sorg.
Koste: Ingang is gratis
Meer inligting: Tsogo Sun
7. Verken Johannesburg met ’n staptoer
Die maklikste wat mens ‘n plek leer ken, is as jy self daar was. Leer Johannesburg ken deur ‘n staptoer! Past experiences bied verskillende toere aan, onder meer graffiti-, boukunde- en historiese toere.
Koste: Hang af van die spesifieke toer wat jy kies
Meer inligting: Past experiences
8. Johannesburg se dieretuin
Wanneer laas was jy by ‘n dieretuin? Dis een van die gewildste plaaslike en toeriste-aanteklikhede in Johannesburg!
Koste: R80 per volwassene en R50 per kind
Meer inligting: Joburg Zoo
Gaan jy Kaap toe? Hier is ‘n lys van 30+ dinge wat jy in die Kaap moet doen
9. Besoek die militêre museum
Hier kan jy artefakte sien van toe Suid-Afrika onder meer by die Tweede Wêreldoorlog en Anglo-Boereoorlog betrokke was.
Koste: R40 per volwassene en R30 vir skoliere en studente
Meer inligting: Ditsong.org.za
10. Trotseer jou vrese by Gold Reef City
Trotseer jou vrese met vreesaanjaende ritte soos die Tower of Terror of die Anaconda, of as jy iets rustigers soek, wat van die teekoppies of die 4D-fliekteater?
Koste: begin by R120
Meer inligting: Gold Reef City
11. Neem ’n foto by die Nelson Mandela-beeldhouwerk in Nelson Mandela Square
Neem ‘n foto by dié ikoniese beeldhouwerk wat 6 m hoog en 2,3 m van elmboog tot elmboog is. As jy dit gedoen het, kan jy inkopies doen in Sandton City (sien nommer 12).
Koste: Verniet
Meer inligting: Nelson Mandela Square
12. Loop rond in Sandton City
Sandton City is een van Afrika se voorste en mees gesogte winkelsentrums met omtrent enige winkel waaraan jy kan dink. Wat dit nóg beter maak, is dat dit binne loopafstand van Sandton se Gautrein-stasie is!
Koste: Hang af wat jy koop!
Meer inligting: Sandton City
13. 27 Boxes
Hierdie oulike inkopiesentrum is in sy geheel uit skeepsvraghouers gebou. Dis die ideale plek om vir ‘n geskenkie vir iemand te soek of net ‘n lekker ontbyt te eet! Daar is ook elke Woensdagaand ‘n mark van 17:00 tot 21:00.
Koste: Geen ingangfooi
Meer inligting: 27 boxes
14. Doen ’n hindernisbaan by Acrobranch
Acrobranch is ‘n opwindende lugavontuur met zip lines, Tarzan swings, nette, brûe en ander struikelblokke wat jou van boom tot boom neem. Daar is verskeie Acrobranches oral in die land.
Koste: Begin by R50
Meer inligting: Acrobranch
15 . Vryf ’n welpie by die Rhino & Lion park
Die Rhino & Lion park bied verskeie aktiwiteite soos: die voer van leeus, wildehonde en jagluiperds, lewendige slangvertoning, jagluiperpraatjie, ‘n dierecrèche (vir jong bedreigde en weesdiere. Daar is verskillende diere op verskillende tye, so om teleurstelling te voorkom, vind eers uit watter diere daar is voor jy gaan), seekoeipoele, ‘n 4×4-roete en nog vele meer.
Koste: Begin by R120 per volwassene
Meer inligting: Rhino & Lion Nature Reserve
16. Maak ’n draai by die Fourways-boeremark
Die mark is gefokus op kos en het meer as 100 stalletjies, so die kanse dat jy nie iets sal kry waarvoor jy lus is nie, is baie skraal! Maak jouself tuis op ‘n hooibaal of houtstomp en geniet jou mense se geselskap en die lekker kos in die buitelug. Wat dit nóg beter maak, is dat honde aan ‘n leiband welkom is!
Koste: R10 ingang per persoon
Meer inligting: Fourway Farmers Market
17. Walter Sisulu Botaniese Tuin
30 minute buite Johannesburg se middestad sal jy dié rustige botaniese tuine kry. Daar is ‘n pragtige waterval en as jy gelukkig is, kan jy dalk die Verreaux’s (swart arende) sien!
Koste: R45 per volwassene en R15 vir skoliere
Meer inligting: SANBI
18. Escape Room
Jy het ‘n geheime deur in jou tuin ontdek wat tot ‘n geheimsinnige kamer lei wat al meer as ‘n halwe eeu onaangeraak is. Wie was die eienaar? Hoekom het hulle dit verlaat? Werk saam om die raaisel op te los en te ontsnap!
Koste: 2 mense R550, groep van 3 mense R795, groep van 4 mense R1 020, groep van 5 mense R1 185, groep van 6 mense R1 320 of vir ‘n groep van 7 mense R1 540
Meer inligting: Escape Room
19. Ry oor die Nelson Mandela-brug
Veral as dit verlig is in die aand! Let wel: Die Hop On Hop Off-bus ry ook dié roete.
Koste: Verniet
Meer inligting: The Nelson Mandela Bridge
20. Kyk ’n sokkerwedstryd by die FNB-stadion
Die stadion staan ook bekend as Soccer City en is in die vorm van ‘n kalbas of ‘n Afrikapot gebou. Onthou om jou vuvuzela saam te vat!
Koste: Begin by so min as R40
Meer inligting: Stadium Management
21. Rol van ’n heuwel af in ’n massiewe opgeblaasde bal
Jozi X het die langste Zorb-rit in Suid-Afrika. Klim binne-in dié bal van 3 m (diameter) en rol by ‘n 200 m-helling af! Jozi X is Woensdae tot Sondae oop van 10:00-17:00.
Koste: R80 per persoon vir 1 rol en R100 vir 2 rolle
Meer inligting: Jozi X
22. Spring van die Orlando-torings af
Laat die adrenalien deur jou are pomp as jy ‘n reksprong tussen dié twee torings doen! Daar is ook ander aktiwiteite, soos ‘n klimmuur, verfbal en SCAD-vryval.
Koste: R550 per persoon
Meer inligting: Orlando Towers
23. Loop deur ’n doolhof (maze)
Honeydew Mazes bied jou die geleentheid om deur ‘n regte doolhof te loop! Dit is ‘n lekker aktiwiteit vir kinders en volwassenes.
Koste: Naweektariewe: R150 per volwassene, R100 per kind; vir ‘n gesin van 2 volwassenes en 2 kinders is dit R420.
Meer inligting: Honeydew Mazes
24. Beleef die mooi uitsig vanuit die hoë Carlton-toring
As jy ‘n pragtige panoramiese uitsig van Johannesburg wil sien, besoek die Carlton Centre se 50ste vloer en wees verstom! Goeie nuus: dit is een van die stoppe op die Hop on hop off-busroete!
Koste: R15 vir volwassenes
Meer inligting: Gauteng.net
25. Ontmoet ’n luidier (sloth) by Monte Casino
Monte Casino se voëlpark bied veel meer as net voëls! Daar is lemurs, pragtige verkleurmannetjies, voëls (natuurlik) en jy kan ook vir Oliver, die Suidelike witpelikaan, wat die ster van die Flight of Fantasy Bird Show is, sien.
Koste: R70 vir almal ouer as 11 jaar en R45 vir kinders tussen 2 en 10.
Meer inligting: Bird Park
26. Loer in by die Neighbourgoods-mark
Hierdie legendariese mark in Braamfontein het heerlike plaaslike kos, lewendige musiek en ‘n prettige atmosfeer. Dis die perfekte plek om jou Saterdagoggend deur te bring. Daar is ‘n Neighbourgoods-mark in Kaapstad ook.
Koste: Gratis
Meer inligting: Neighboursgood Market
27. Hou piekniek by Emmarentia Park
Pak ‘n mandjie en vat die hele gesin om piekniek te hou by Emmarentia Park. Dié park bestaan uit die Emmarentia-dam en die Johannesburgse Botaniese Tuin wat sewe kenmerkende tuine het (onder meer ‘n kruietuin, vetplanttuin, Shakespeare-tuin en roostuin).
Koste: Gratis ingang by Emmarentia dam. Bevestig self met die Botaniese Tuin of daar ‘n ingangsfooi is.
Meer inligting: Joburg.co.za
28. Neem jou kinders om die Sci-Bono Discovery Centre te verken
Die Sci-Bono Discovery Centre is Suid-Afrika se grootste wetenskapsentrum en ontvang jaarliks honderde duisende besoekers wat kom deelneem aan die interaktiewe wetenskap- en tegnologie-uitstallings.
Koste: R32 vir kinders tussen 3 en 16 en R48 vir volwassenes
Meer inligting: Sci-Bono
29. Mandela House in Soweto
Besoek die huis in die historiese Vilakazistraat waar Nelson Mandela gewoon het.
Koste: R40 per volwassene en R20 vir kinders oor 6 jaar
Meer inligting: Mandela House
30. Ry op die Gautrein
As jy nie lus is om te ry nie, spring op die Gautrein! Ry van Centurion na Sandton in 20 minute of van Sandton-stasie na OR Tambo-lughawe binne 14 minute!
Koste: Begin by R26 vir ‘n enkelrit
Meer inligting: Gautrain
31. Kyk na die sterre by Wits se planetarium
As sterre, planete en konstellasies jou kind fassineer, moet julle beslis die planetarium besoek.
Koste: R50 vir volwassenes en R35 vir skoliere en studente
Meer inligting: Wits Planetarium
32. Gaan kyk na ’n vertoning by die Joburg Theatre
Wanneer laas het jy na ‘n vertoning gaan kyk? Die Joburg Theatre bied wêreldklasvertonings aan, van ballet tot komedie.
Koste: Hang af van die vertoning wat jy kyk
Meer inligting: Joburg Theatre
33. Bring ’n dag in die Wieg van die Mensdom deur
Hierdie is ‘n uitstappie wat beloof om so lekker te wees soos wat dit opvoedkundig is. Maropeng, die leerdersentrum, is interaktief en informatief wat oud en jonk sal fassineer. Die hoofaantrekking is egter die onderwaterbootrit wat jou deur die geskiedenis van die aarde neem. Of neem ‘n toer deur die Sterkfonteingrotte wat die wêreldberoemde mevrou Ples en Homo Naledi gehuisves het.
Koste: Verskillende toegangsgelde vir die verskillende aktiwiteite
Meer inligting: Maropeng en Cradle of Humankind
34. Besoek die Apartheidmuseum
Die museum is ‘n moet as jy wil weet hoe dit was gedurende die apartheidsera. Die museum is ook baie gewild onder toeriste.
Koste: R85 vir volwassenes en R70 vir skoliere en studente
Meer inligting: Apartheid Museum