Die meeste mense wat hulle huis wil verkoop, het een ding gemeen: Hulle wil dit so gou as moontlik doen.
Kopers, daarenteen, kyk gewoonlik eers die kat behoorlik uit die boom. Hoe maak jy dus seker dat kopers a) jou huis raaksien, en b) dan dadelik swig?
Crispin Inglis, medestigter en HUB van Property Fox, Suid-Afrika se aanlyn-verkoopsmaatskappy, sê die geheim is om te verstaan hoe kopers na huise soek. “Gelukkig is daar wêreldwyd hieroor baie navorsing gedoen. Ons het na ’n paar van die meer onbekende bevindings gekyk – soos dat as jy in die Verenigde Koninkryk is en by nommer 13 bly, jy waarskynlik ’n allemintige R110 000 minder sal kry as die ou by nommer 12 of 14 – en op ’n paar baie nuttige wenke afgekom.”
Property Fox het dit met hulle eie ondervinding gekombineer en 10 wenke saamgestel om verkopers te help om voornemende kopers se volle aandag te trek:
1. Sorg dat jou eiendom digitaal uitstekend aangebied word
Kopers is op die internet. Om die waarheid te sê, 80% kyk eers aanlyn na die gemiddelde pryse van huise en waardeneigings in ’n gebied voor hulle ’n agent nader. Dit is daarom van kardinale belang hoe jou huis digitaal “verpak” is. As jy ’n agent of aanlyn-verkoopsmaatskappy wil gebruik, kyk eers hoe lyk hulle digitale bemarkingsproses en kies een wat dit maklik maak om hulle eiendomme te kry en wat die eiendomme aanloklik aanbied.
2. Dring aan op fantastiese foto’s
Professionele foto’s vertoon jou huis ten beste en sal heel waarskynlik baie meer voornemende kopers lok. Kies dus ’n maatskappy wat professionele fotograwe gebruik om jou eiendom af te neem. ’n Onduidelike selfoonfoto van die stort se een hoek gaan nie in jou guns tel nie.
3. Kies ’n agent wat aanlyntoere aanbied
Maak seker dat ’n video van jou huis verfilm word om die digitale pakket nog beter te maak. ’n Videotoer gee ’n mens ’n goeie idee van ’n huis se uitleg en atmosfeer.
LEES OOK: My kind doen niks in die huis nie!
4. Beklemtoon plekke van belang in jou omgewing
Jou huis se ligging kan help om dit te verkoop, veral in Suid-Afrika, waar baie mense deel van ’n spesifieke skoolsone wil wees. Sorg dat die maatskappy wat jou huis verkoop ’n lys van die noemenswaardigste aspekte van jou omgewing het.
5. ’n Internetkonneksie is deurslaggewend
Volgens die Absa Homeowner Insights-verslag verkies baie millenniërs ’n optiesevesel-konneksie bo ’n swembad, wat “fibrehoods” al hoe gewilder maak. As jy nie sulke tegnologie op jou eiendom het nie, vind uit of dit in jou omgewing beskikbaar is, of binnekort geïnstalleer gaan word – en noem dit in die aanlynbeskrywing van jou huis.
6. Hoe ligter, hoe beter
Daar bestaan geen rekord daarvan dat ’n Suid-Afrikaanse koper al ooit na ’n donker huis gesoek het nie. Ons almal wil graag in ’n huis met natuurlike lig bly. As jou huis effens donker is, snoei die plante, maak die gordyne en blindings oop en belig donker meubels. Jy kan dit selfs oorweeg om van die mure en kaste wit te verf om jou huis ligter te laat lyk.
7. Hou die kleurskema neutraal
Dit is vir die meeste mense moeilik om hulleself in ’n huis te visualiseer as die dekor baie helder is. Veral helderkleurige mure en teëls kan kopers afsit. Dit is waarom dit die moeite werd is om mure in neutrale kleure oor te verf. Dit gaan jou dalk kos op die kort termyn, maar die feit dat jou huis dan baie vinniger gaan verkoop, sal heel waarskynlik daarvoor opmaak.
LEES OOK: 6 iPhone truuks waarvan jy nie geweet het nie
8. Stroop
Minimalisme het moderne estetiese waarde, en dit help mense ook om hulleself in ’n huis te visualiseer. Al is jy hóé lief vir jou ouma se porseleinpoppe – bêre hulle iewers tot jou huis verkoop is.
9. Maak silwerskoon en ruim op
’n Deurmekaar, en veral ’n vuil huis sit mense geweldig af. Die Britse eiendomsagentskap Rightmove het gevind dat vuil kombuise en badkamers voornemende kopers die meeste afsit. Maak jou huis behoorlik skoon, en let veral op dinge wat jy nie meer raaksien nie, soos muf tussen teëls en muurpapier wat afskilfer. ’n Koper wat so iets binne jou huis sien, sal geneig wees om te dink die gebou self is ook nie onderhou nie.
10. As jy ’n uitsig het, vestig aandag daarop
Nadat Vileda voornemende kopers van brille voorsien het wat jou oë volg, het hulle uitgevind dat 95% van die kopers heel eerste na die uitsig kyk. ’n Uitsig hoef nie die see of ’n berg te wees nie – dit kan jou tuin of ’n binnehof ook wees. As jy dit voor die tyd baie goed versorg en/of mooi inklee, kan dit jou eiendom help verkoop.
Jy sal dalk nog steeds vreemde versoeke kry – soos of jy jou pragtige gemmerkat by die prys sal insluit – maar as jy hierdie 10 wenke volg, sal jou huis die meeste voornemende kopers lok.
Besoek gerus: www.propertyfox.co.za