Dis glo belangrik om die tyd dop te hou as dit by gewigsverlies kom, hoewel hierdie plan nie by almal sal byval vind nie …
Dr Travis Stork, skrywer van The Lean Belly Prescription en ‘n TV-persoonlikheid, skryf in ‘n artikel op rodalewellness dat menige studie oor gewigsverlies erken dat tyd belangrik is in oefeninge en dieet om meer kalorieë te verbrand en metabolisme aan te wakker.
‘n Studie aan die Georgia-universiteit in Amerika het byvoorbeeld gevind dat atlete wat hoë-proteïen-versnaperings geniet, meer geneig sal wees om liggaamsvet te verloor en meer energie te hê as deel van ‘n ideale skedule vir gewigsverlies.
Travis en sy medeskrywer, Peter Moore, sê ‘n perfekte gewigsverliesdag behoort só te lyk:
7:00: Doen opsitte, opstote en jumping jacks vir twee minute lank. Dit sal jou energie ‘n hupstoot gee.
7:15: Eet twee roereiers en ‘n snytjie spek. ‘n Hoë-proteïen-ontbyt laat ‘n mens voller deur die dag voel en sal keer dat jy jou later ooreet.
7:45: Hierdie is volgens studies die beste tyd vir jou liggaam om te gim hoewel dit nie maklik is as jy voltyds werk nie.
09:00: Drink melk. ‘n Dieet met kalsiumryke suiwel kan jou gewigsverlies ‘n hupstoot gee.
10:00: Eet ‘n proteïenryke versnapering soos laevetvleis op ‘n volgraanbroodjie.
11:00: As jy ‘n blaaskans by die werk kan vat, loop vinnig deur die kantoor of af met die pad.
13:00: Geniet ‘n middagete wat magnesium bevat soos spinasieslaai met amandels.
14:00: Loop in jou kantoorgebou eerder as wat jy die hysbak gebruik.
16:00: Drink ‘n koppie groentee. ‘n Studie in die Journal of Nutrition het bevind dat groentee liggaamsvet kan verminder.
17:00: Eet lekker branderige versnapering. Kos met ‘n skop help glo om vet en kalorieë te verbrand.
19:00: Hierdie is die ideale tyd om te gaan stap.
19:30: Eet aandete
21:30: Ontspan deur te lees of na musiek te luister.
10:30: Dis slaaptyd!
Wat dink jy van die plan?
Lila Maree: Ons eet al ná ses in die aand en teen halfnege is ons in die bed sodat ek teen halfvyf kan opstaan. Die plan gaan glad nie vir my werk nie. Ek dink wel ek behoort my middagete later in plaas van elfuur te eet…
Sandra Pieterse: Die skedule sal nie vir my werk nie, maar ek weet dat groentee beslis met gewigsverlies help.
Adriaan Esterhuizen: Ek loop altyd trappe en ek glo dat dit my help om my gewig in toom te hou. Ek is ook ‘n groot voorstander van versnaperings deur die dag. Dit help nie om jou uit te honger nie.