Wat is die geheim van ‘n lang en gesonde lewe? Nuwe navorsing het ‘n groot faktor gevind wat tot swak gesondheid by ouer mense bydra …
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
‘n Studie wat aan die Universiteit van Kalifornië in San Diego gedoen is, het ‘n groot faktor gevind wat tot ouer mense se swak gesondheid en uiteindelik sterfte bydra: eensaamheid.
Die navorsing deur onder andere dr Carla Perissinotto is as “Eensaamheid in ouer mense: ‘n Voorganger van funksionele agteruitgang en dood” in die joernaal Jama Internal Medicine gepubliseer.
Die studie het ongeveer 1 600 mense met ‘n gemiddelde ouderdom van 71 ingesluit.
Ongeveer 23% van die mense wat eensaamheid gerapporteer het, het binne ses jaar van die studie gesterf in vergelyking met die slegs 14% wat voldoende interaksie met ander ervaar het.
Hoewel dit nie na ‘n groot persentasieverskil lyk nie, word dit in gesondheidskringe as noemenswaardig beskou.
As jy ouer word en meer tyd met jou geliefdes kan deurbring, kan dit dus baie vir jou welstand beteken.
BRON: http://jamanetwork.com