Kan jou bloedgroep jou gesondheid beïnvloed en selfs iets van jou persoonlikheid sê?
Deur: Zerelda Esterhuizen
Die Japannese het vroeg reeds studies oor die verband tussen ‘n mens se bloedgroep en jou algemene welstand gedoen. ‘n Japannese professor, Tokeji Furukawa, het reeds in 1930 bevind dat die individuele bloedgroepe die persoonlikhede van daardie mense weerspieël. Vandag is hierdie bloedgroepkategorisering deel van die Japannese kultuur – daar word selfs vir personeelplasings na bloedgroepe gekyk!
Verskeie Westerse studies is ook intussen gedoen en boeke is daaroor geskryf en vandag glo baie mense dat sekere bloedgroepe ‘n hoër risiko vir sekere siektes toon; dat daar ‘n verband tussen bloedgroepe en persoonlikhede bestaan en dat jy eintlik volgens jou bloedgroep moet eet!
Bloedgroep en siektes
Bloedgroepantigene is orals in jou liggaam, veral op die oppervlaktes wat met jou omgewing te doen het. Dit sluit van jou spysverteringstelsel tot jou longe in. Dis glo die antigene wat beïnvloed hoe jou liggaam op kos reageer. Die lektien in sekere kosse bind byvoorbeeld met jou bloedantigeen en dit lei tot velprobleme, moegheid, hoofpyne en dies meer.
LEES OOK: Wat sê jou geboortemaand van jou?
A-bloedgroep
Hulle het glo ‘n hoër risiko vir mikrobiese infeksies, maar tipe A-vroue ervaar ‘n hoër risiko vir onvrugbaarheid. Hulle het ‘n hoër kans om maagkanker te ontwikkel en ‘n 5% groter kans vir hartsiektes as ander bloedgroepe. Daar is ook ‘n groter risiko vir waterpokkies en malaria. Daar is ook glo ‘n groter kans op obsessief-kompulsiewe versteuring.
B- en AB-bloedgroep
Hulle het ‘n 11% groter kans vir hartsiektes as tipe O. Vroue met AB of B bloed het ‘n groter risiko om baarmoederkanker te ontwikkel. Hulle het meer vriendelike bakterieë as mense met A of O bloed.
Mense met die AB-bloedgroep het ‘n 23% groter kans as O-mense om ‘n hartsiekte te ontwikkel. Swanger vroue met ‘n AB-bloedgroep se kanse is groter om ook die preëklampsie te ontwikkel. Mense met hierdie bloedgroep het ook glo ‘n 82% groter kans om kognitiewe probleme te ervaar.
LEES OOK: Wat sê jou hond van jou?
O-bloedgroep
Mense met O het ‘n veg-of-vlug-reaksie op stres wat lei tot die oorproduksie van adrenalien. Dit vat Tipe O langer om van stres te herstel, want dit is moeiliker vir hulle om van die adrenalien in hul liggaam ontslae te raak. Hulle het ‘n groter geneigdheid om maagsere te ontwikkel en daar is ook ‘n groter risiko vir cholera, maar weer ‘n laer risiko vir pankreaskanker. Dit wil ook voorkom asof O-bloedgroepe meer geneig is tot depressie en erge angs as dit in die familie is.
Jou bloedgroep en jou persoonlikheid
A-bloedgroep
Sensitief, slim, passievol, samewerkend. Hulle sukkel soms met opgeboude angs en mag hul emosies so inhou dat dit voel asof hulle gaan ontplof. Baie is gespanne, ongeduldig en sukkel om te slaap. Hoewel die mense leierskapsposisies kan inneem, is dit eintlik nie goed vir hulle nie weens die verhoogde stres daarvan. Hulle is dikwels perfeksioniste en vaar goed as navorsers. Te veel stres verlaag hul immuniteit vinniger as ander bloedgroepe. Lae maagsuur is algemeen en hulle moet dus versigtig wees met diereproteïene.
B-bloedgroep:
Hierdie mense is gewoonlik meer gebalanseerd. Ambisieus, empaties en verstaan ander mense se oogpunte maklik, hoewel hulle nie graag ander konfronteer of uitdaag nie. Hulle is buigsaam en maak goeie vriende. Hulle toon ‘n groter ontvanklikheid vir virale infeksies soos lupus, MS en chroniese moegheid. Hulle mag ook probleme met hipoglukemie en bloedsuiker ondervind veral as hulle die verkeerde kosse eet.
AB-bloedgroep
Hulle is gewoonlik baie sjarmant en gewild en is nie oor nietighede begaan nie. Hulle kan as baie geestelik gesien word. Daar is nooit ‘n vervelige oomblik in hierdie mense se lewe nie. Hulle reageer ook swak op stres en moet aandag gee aan stresvlakke. Hulle pas nie in ander mense se boksies in nie en sal eerder hul eie ding doen. Hulle is aanpasbaar, maar ook soms krities, onverantwoordelik, vergeetagtig en besluiteloos.
LEES OOK: Hoe gemaak met hoë bloeddruk?
O-bloedgroep
Hulle is dikwels alleenmense of leiers en is intuïtief, gefokus en op hulself aangewese. Hulle het ‘n sterk wil, is vol selfvertroue, het deursettingsvermoë, maar kan ook onvoorspelbaar, koud en werkoliste wees. Hulle het sterk immuunstelsels en hou van fisieke aktiwiteit. Hulle het wel stadige bloedvloei, maar sal beter voel ná ‘n uur se oefening.
Oefening en bloedgroepe
Mense met A- en B-bloedgroepe reageer glo beter op kalmerende lae-intensiteitsoefening soos joga, veral as daar depressie in die familie is. Mense met die AB-bloedgroep reageer weer goed op goeie aktiwiteitsoefeninge wat hul immuunstelsel versterk. Tipe O-mense kort goeie kardio-oefening en moet sowat ‘n uur fietsry of draf.
Bloedgroepe en kos
Dr Peter J D’Adamo beweer dat die kos wat jy eet chemies met jou bloedtipe reageer. Volgens sy boek Eat Right for your Type behoort jou liggaam kos beter te verteer as jy ‘n dieet geskoei op jou bloedgroep volg. Jy sal gewig verloor, meer energie hê en dit kan siektes bekamp.
Tipe A: ‘n Vleisvrye dieet met groente en vrugte, boontjies en peulplante en volgrane. Organies en vars omdat mense met hierdie bloedgroep glo ‘n sensitiewe immuunstelsel het.
Tipe B: Vermy mielies, graan, lensies, tamaties, grondboontjies en sesamesade. Hoender word ook nie aanbeveel nie. Peter beveel groen groente, eiers, laevetsuiwel en sekere vleise aan.
LEES OOK: 10 wenke vir dieetsukses
Tipe AB: Die dieet moet fokus op tofu, seekos, suiwel en groente omdat mense met hierdie tipe bloed lae maagsuur het. Vermy alkohol, kafeïen en gerookte vleis.
Tipe O: ‘n Hoë-proteïendieet met maer vleis, hoender, vis, groente en minder grane, boontjies en suiwelprodukte. Hy beveel ook aanvullings voor om met maagprobleme en ander kwessies te help.
BRONNE:
www.bodyecology.com, www.medicaldaily.com, www.scientificamerican.com
Is jou nuuskierigheid geprikkel? Loer na www.dadamo.com vir meer volledige inligting oor die onderwerp