Februarie is die maand van liefde, maar volgens 1st for Women Insurance is ‘n ander baie belangrike onderwerp wat aandag verdien ‘n hartsaak – hartsgesondheid in vroue.
Dis ‘n skokkende statistiek dat kardiovaskulêre siektes (KVS) jaarliks 8.6 miljoen sterftes onder vroue veroorsaak en die hoofoorsaak van sterftes onder vroue in die VSA is. Volgens die Heart and Stroke Foundation SA is hartsiekte verder die grootste enkele oorsaak van sterftes – verantwoordelik vir ‘n derde van alle sterftes onder vroue wêreldwyd. In Suid-Afrika bly KVS een van die grootste moordenaars, en sal een in vier vroue voor die ouderdom van 60 aan een of ander vorm van hartsiekte ly.
“Anders as wat algemeen aanvaar word, is mans nie die enigstes wat geneig is tot hartsiektes nie”, sê 1st for Women se Uitvoerende Hoof, Robyn Farrell. “Vroue kan reeds in hulle tienerjare en vroeë twintigs plaak in hul are begin ontwikkel. Dié toestand kan lei tot hartsiekte, ‘n hartaanval en beroerte – goeie rede vir vroue om die risikofaktore deeglik te verstaan, gereëld vir ondersoeke te gaan en leefstyl-aanpassings te maak waar nodig.”
Dokters beveel aan dat vroue reeds van 20-jarige ouderdom af ondersoek word om hulle liggaamsmassa-indeks, middelmate, bloeddruk en cholesterol- en suikervlakke te monitor. Al hierdie faktore word met hartsgesondheid geassosieer en kan behandel of beheer word om die risiko vir hartsiekte te verlaag.
Volgens die Heart and Stroke Foundation SA verdriédubbel die risiko vir hartsiekte sodra ‘n vrou menopause bereik.
Die waarskuwingstekens vir hartaanvalle in vroue is minder voor die hand liggend as in mans. Vroue is ook meer geneig om hierdie simptome te ignoreer, aangesien dit gewoonlik nie die tipiese gevoel van drukking in die bors, of ongemak en pyn is nie.
Simptome van ‘n hartaanval sluit die volgende in:
- ‘n Ongemaklike gevoel indie bors
- Abdominale pyn
- ‘n Ongereëlde, fladderende hartritme
- ‘n Kort asem
- Moegheid
- Duiseligheid en/of floute
- Geswelde voete
“Om reeds op ‘n vroeë stadium meer oor jou gesondheid en risikofaktore te weet is ‘n belegging in jou welstand,” sê Farrell. “Ongediagnoseerde hartprobleme vererger met tyd en, maak nie saak hoe besig jy is om na ander om te sien nie, is dit belangrik om ook na jou hart om te sien en nie jou gesondheid af te skeep nie.”