April is outismebewustheidsmaand. Ons het dieper gaan delf
Carla is ’n ma met ’n outistiese kind. Sy vertel: “Hope was 12 dae oud toe sy in veilige hawe by ons geplaas is. Ons doel was om haar aan te neem en toe sy vier was, is die aannemingsproses afgehandel. Hope is nou sewe jaar oud en ’n pragtige kind.
”Ek en my lewensmaat, Zuleka, is albei oudverpleegkundiges en toe Hope net so oor ’n jaar oud was, het ons opgelet dat sy skielik tjoepstil geraak het. Die enkele woorde wat sy toe reeds gebruik het en die gewone kleutergebrabbel het net opgehou. Sy het ook net op haar eie gespeel en het ons glad nie betrek by dit waarmee sy besig was nie. Ek het van outisme geweet en was dadelik bekommerd.
“Die pediater kon niks fout vind nie en het ons aangeraai om na haar ore te laat kyk. Sy het oorbuisies gekry en haar mangels is uitgehaal, maar dit het nie die probleem opgelos nie. “Die een neurologiese paediater het voorgestel dat ons net een taal in die huis praat om Hope nie verder deurmekaar te maak nie. Sy was in ’n Engelse skool en ons het ons huistaal na Engels verander. “Ons is deur meer as een pediater, spraakterapeut en ander kundige wat met outisme werk, verseker dat Hope nie outisme het nie. Dit is glo baie moeilik om dogtertjies met outisme te diagnoseer omdat hulle die vermoë het om na te aap en die tekens van outisme só verbloem. “Hope was reeds ses maande in ’n spesiale skool vir kinders met ’n spraak- en taalagterstand toe die onderwysers voorstel dat ons haar weer laat toets.
“’n Paneel kundiges by Charlotte Maxeke-hospitaal het Hope met outisme gediagnoseer. Sy was toe vier jaar oud. Daar was geen twyfel nie. “Hope is nou in ’n skool vir outistiese kinders in Orange Grove. Haar taalgebruik is steeds minimaal, maar sy gaan goed aan en ons is baie gelukkig met haar vordering. “Partykeer is dit drie stappies vorentoe en twee agteruit. Ons leer baie, nie net oor outisme nie, maar ook hoe belangrik dit is om op jou familie, vriende en beskikbare hulpbronne staat te maak.”
Wat is outismespektrumversteurings?
Outismespektrum-versteurings (OSV) is ’n groep genetiese toestande wat abnormale breinontwikkeling en -funksie veroorsaak. Ondanks navorsing wat voortdurend gedoen word om te probeer uitvind wat die oorsaak van outisme is, is daar steeds geen duidelike antwoorde nie. Outisme is niemand se skuld nie. Jy as ouer het niks verkeerd gedoen nie. Kinders met OSV tree nie uit eie keuse só op nie – hulle reageer net op hul omgewing. Dis nie ’n skande om ’n kind met outisme te hê nie. OSV is besig om wêreldwyd toe te neem. Volgens internasionale statistieke raak dit een uit 158 kinders onder agt jaar. Dit affekteer vier keer meer seuns as meisies.
Drie hooftipes OSV
ASPERGER-SINDROOM
OSV veroorsaak nie altyd verstandelike gestremdheid nie. Mense wat deur OSV geaffekteer is, kan oor normale of bogemiddelde verstandelike vermoëns beskik, met byna normale spraakontwikkeling. Daar word gesê dat hierdie mense Asperger-sindroom het. Ongeveer 25% van mense met OSV het Asperger-sindroom.
KLASSIEKE/KANNER-OUTISME
Wanneer OSV met verstandelike gestremdheid en/of leerprobleme gepaardgaan, word gesê dat hierdie mense klassieke of Kanner-outisme het. Ongeveer 75% van mense met OSV het verstandelike gestremdheid of leerprobleme.
SAVANT-VORM VAN OUTISME
Ongeveer 5% van mense met OSV het die savant-vorm van outisme. Hulle kan beskryf word as individue wat oor byna bomenslike vermoëns op een gebied beskik, tesame met ernstige gebreke in ander. Byvoorbeeld, iemand wat nooit geleer het hoe om klavier te speel nie, kan dalk ’n volledige klavierstuk speel nadat hy of sy slegs een keer daarna geluister het, maar kan nie eenvoudige daaglikse take uitvoer nie.
Hoe beïnvloed OSV die lyer? Ongeag van watter tipe OSV ’n persoon het of hoe die spesifieke vorm van OSV na vore kom, alle persone wat korrek met OSV gediagnoseer is, word deur een van bogenoemde drietal van gebreke geaffekteer. Hierdie drietal veroorsaak agterstande in die ontwikkeling en voortdurende probleme in taal en kommunikasie, sosiale interaksie en verbeelding.
TAAL EN KOMMUNIKASIE
Die ontwikkeling van spraak en taal kan abnormaal, afwesig of stadig wees; daar kan min reaksie wees wanneer mense met hulle praat. Dit kan ook voorkom asof hulle doof is.
Hulle kan miskien nie stemtoon, gebare, of gesigsuitdrukkings, soos frons of glimlag, verstaan nie.
Hulle kan vergelykings, metafore of jargon letterlik opneem (hulle kan dink dat “dit reën katte en honde” letterlik met katte, honde te doen het).
Hulle kan dit moeilik vind om ’n gesprek te voer en woorde of frases oor en oor herhaal. Mense met OSV kan dalk duidelik en korrek praat, maar verstaan dalk steeds nie alles wat aan hulle gesê word nie.
Hulle kan as argumentatief, hardkoppig of oormatig toegeeflik voorkom.
Hulle kan op ’n formele, stram of hoogdrawende manier praat.
Hulle kan lyk asof hulle nie aandag gee nie of nie reageer nie.
Dit is bekend dat hulle eerlik kan wees, tot só ’n mate dat hulle as kortaf of ongeskik voorkom.
SOSIALE INTERAKSIE
Hulle kom eensaam voor en lyk of hulle vir ander mense omgee nie.
Hulle sukkel om lyftaal te lees of om die noodsaaklikheid van beleefdheid te verstaan.
Hul gedrag is dikwels onvanpas of vreemd, en hulle vermy oogkontak as hulle bekommerd voel of onder druk verkeer.
Hulle hou nie van fisieke kontak nie en verkies om op hulle eie te speel of om alleen te wees.
Hul skynbare onafhanklikheid kan hul sosiale gestremdheid wegsteek.
Gedrag kan onvoorspelbaar wees omdat hulle sukkel om sosiale situasies en taal te verstaan.
GEDRAG EN VERBEELDING
Hulle speel met hul speelgoed op vreemde maniere (pak speelgoed in rye eerder as om daarmee te speel).
Hulle kan nie die gevolge van hul optrede voorspel nie.
Veranderings in roetine of omgewing, byvoorbeeld ’n ander roete na die winkels, of ’n verskuiwing in die huis se meubels, mag hulle ontstel.
Hulle hou dalk van vaste reëls en kan dan oorreageer wanneer mense die reëls breek of verander.
Hulle kan spesiale belangstellings hê wat in obsessies verander.
Hulle kan dit moeilik vind om dinge vanuit ’n ander persoon se oogpunt te sien.
Hulle kan dalk vreemde gewoontes hê, soos om te wieg, in die rondte te draai, vingers te fladder, aanhoudend aan voorwerpe te peuter, om voorwerpe te laat tol, om aan teksture te voel of om voorwerpe in rye of patrone te rangskik.
Hulle kan aan voorwerpe vasklou, byvoorbeeld heeldag ’n stuk wol ronddra.
Woedebuie kan voorkom sonder ’n opsigtelike of verstaanbare rede.
Belangstellings en die omvang van aktiwiteite mag beperk wees – stel byvoorbeeld net in legkaarte belang. Selfbeseringsgedrag soos kopstamp, krap en byt, kan voorkom.
Verbeeldingspel is swak – kan nie met ’n blokkie speel asof dit ’n karretjie is nie.
Let op dié eienskappe
Hoe weet jy of jou kind dalk outisme het? Let op die volgende kenmerke:
Min bewus van ander.
Ongewone gewoontes soos wieg, hande flap, voorwerpe rondtol.
Die ontwikkeling van spraak en taal is atipies, afwesig of vertraag.
Onverskillig teenoor of afkeer daaraan om aangeraak of vasgehou te word.
Reageer nie op verbale insette nie en tree soms op asof hy doof is – jy mag dalk dink jou kind is doof.
Buitengewone gehegtheid aan voorwerpe.
Abnormale slaappatrone.
Vertoon angs of gooi vloermoere.
Verkies om alleen te speel.
Sukkel om met ander te kommunikeer en maak min of geen oogkontak nie.
Geen vrees vir gevaar nie.
Gebruik teen 11 maande nog geen brabbeltaal nie.
Maak teen 12 maande geen eenvoudige handgebare soos om te waai nie.
Praat nog glad nie teen 16 maande nie.
Gebruik teen twee jaar nog nie tweewoordsinnetjies nie.
Reageer nie wanneer geroep word nie.
Speel nie “waar’s hy, daar’s hy” nie.
Wys nie na iets waarin hy belangstel nie.
Glimlag selde vir ander.
Kyk eerder na dinge as mense.
Verkies om alleen te speel.
Doen nie moeite vir jou aandag nie.
Leef in ’n eie wêreld.
Sensitief vir teksture, geluide of ligte.
Stel uitermatig in sekere dinge belang soos deure, ligskakelaars en waaiers.
Wat jy as ouer kan doen
1 Leer soveel jy kan oor die toestand sodat jy ingeligte besluite oor jou kind kan neem. Besoek Outisme Suid-Afrika se webwerf by www.aut2know.co.za of die Britse nasionale outistiese vereniging by www.nas.org.uk. Lig ook jou vriende en familie hieroor in.
2 Jy hoef nie vir die diagnose te wag nie. Gryp so gou moontlik in as jy bogenoemde kenmerke by jou kind bespeur. Moenie hoop hy gaan dit bloot ontgroei nie. Hoe gouer ’n kind met outisme gehelp word, hoe beter is die kans dat hy later onafhanklik kan lewe.
3 Aanvaar jou kind net soos hy is en vier die klein vorderings. Moenie jou kind met ander vergelyk nie.
4 Moet nooit opgee nie. Jy kan nie sy toekoms voorspel nie. Net soos enigiemand anders het jou kind ’n leeftyd om te groei en sy vermoëns te ontwikkel.
5 Sluit by ondersteuningsgroepe aan.
6 Sosiale interaksie is moeilik vir ’n kind met outisme. Dit mag dalk lyk of hy nie met ander wil speel nie, maar dalk weet hy net nie hoe nie. Leer hom hoe om ’n gesprek te begin en met ander te speel.
7 Pas op vir sensoriese oorlading. Te veel sal hom net laat stres. ’n Terapeut kan help om dit te verlig.
8 Bly positief. Beklemtoon jou kind se sterk punte. Dit is belangrik dat jy ook soms uit die situasie kom. Ruim vir jou alleentyd in.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …