Stres is sleg vir ‘n mens se gesondheid. Punt. Maar nou het ‘n studie nog verdere gevare uitgewys, veral vir mans
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Mans wat langdurig aan werksverwante stres blootgestel word, het ‘n hoër risiko om long-, kolon-, maag- of rektale kanker en non-Hodgkinsiekte te kry.
Dit is volgens ‘n studie wat in die joernaal Preventive Medicine gepubliseer is.
Navorsers verbonde aan die Universite de Montreal in Kanada het die verband tussen kanker en werksverwante stres onder mans deur hul werksjare ondersoek.
Die mans het oor die algemeen vier werke tydens hul werksjare gehad en ‘n paar 12 en meer. ‘n Beduidende verband met vyf van die elf kankers is tydens die studie gevind. Dit is onder die mans wat 15 tot 30 jaar van werksverwante stres ervaar het.
Die stresvolste beroepe het ‘n brandweerman, ‘n industriële ingenieur, meganiese voorman, spoorwerker en ‘n lugvaartingenieur ingesluit.
Die studie het ook gewys dat stres nie tot ‘n hoë werkslading en tydsbeperkings beperk is nie. Kliëntediens, verkopekommissies, verantwoordelikhede, ‘n angstige temperament, werksonsekerheid, finansiële probleme, uitdagende of gevaarlike werkstoestande, interpersoonlike konflik en moeilike pendel na werk, is alles bronne van stres wat genoem is.
Volgens die studieleiers moet daar nou gevra word of chroniese stres as ‘n openbare gesondheidskwessie gesien kan word. Verdere navorsing is egter nog nodig.
BRON: www.ndtv.com