Jy werk jou half oor ‘n mik in die week en dan is daar nog huis, man, kind, hond, wasgoed en allerlei ander dinge op jou doenlysie. Wat van oefening?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Teen die tyd wat jy in die aand op jou bank neerval, is oefening die laaste ding waaraan jy dink. Jy wil gesonder leef, dit is elke jaar jou voorneme, maar jou lewe meng ernstig met dié plan in.
Maar wat as jy net naweke oefen? Kan dit jou gesondheid enigsins verbeter en iets vir jou welstand beteken?
Wel, ‘n nuwe studie sê gelukkig “ja”!
Volgens die studie deur drs Gary O’Donovan, I-Min Lee, Mark Hamer en Emmanuel Stamatakis wat in die Jama Intern Med-joernaal gepubliseer is, sal een of twee oefensessies oor ‘n naweek belangrike gesondheidsvoordele vir jou inhou.
‘n Opname van meer as 64 000 volwassenes in Engeland en Skotland deur navorsers aan die Loughborough-universiteit en die Universiteit van Sydney het bevind dat doelgerigte oefening die sleutel tot beter gesondheid is.
Dit is wonderlike nuus vir mense met ‘n besige lewenstyl wat slegs naweke kan oefen. Mense wat fisieke aktiwiteite beoefen (of dit nou gereeld of ongereeld is) toon ‘n laer risiko om weens kanker of kardiovaskulêre siektes te sterf.
Mense wat naweke oefen en al hul oefening op een of twee dae per week doen, se risiko is 41% laer as onaktiewes om aan kardiovaskulêre siektes en 18% laer om aan kanker te sterf. Diegene wat gereeld drie of meer dae per week oefen, verminder hul risiko met onderskeidelik 41% en 21%.
Volgens Justin Varney, van Public Health England, word die maksimum gesondheidsvoordele bereik as jy 150 minute van matige aktiwiteit per week doen, maar elke bietjie tel. “Selfs tien minute se oefening sal gesondheidsvoordele bied.”
BRON: www.bbc.com