Pasop vir griep as jy sekere gesondheidsmerkers het, waarsku navorsers
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Griep laat ‘n mens ellendig voel, maar dit kan ernstige nagevolge hê.
‘n Studie wat in die New England Journal of Medicine gepubliseer is, toon dat griep jou risiko vir ‘n hartaanval kan verhoog. Dr Jeff Kwong van die Institute for Clinical Evaluative Sciences and Public Health Ontario, Kanada, sê hulle het gevind dat mense ses keer meer geneig is om ‘n hartaanval te kry in die week ná ‘n griepdiagnose as ‘n jaar voor of ná die infeksie.
Dokters het al lankal agtergekom dat daar ‘n verband tussen seisoenale griep en kardiovaskulêre sterftes is, maar daar was nie vantevore bewyse nie. Daar gebeur tydens griep baie in die liggaam wat die verhoogde risiko vir ‘n hartaanval kan verduidelik.
Dr Kwong sê daar is byvoorbeeld inflammasie in die liggaam wat die liggaam onder stres laat verkeer. Suurstofvlakke en bloeddruk kan daal en dit kan weer tot bloedklonte lei. Volgens dr Kwong sal ‘n jong gesonde mens waarskynlik nie ‘n hartaanval kry as hy griep het nie – dis gewoonlik ouer mense wat reeds risikofaktore vir ‘n hartaanval het.
Dr Kwong meen dis beter om ‘n griepinspuiting te kry, veral as jy die risikofaktore soos hoë bloeddruk, ensovoorts het.
BRON: www.reuters.com
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.