Jy staan by die betaalpunt en daar is heerlike sjokolade en ander eetgoed om te vat. Heerlik gerieflik, nè? En dis gewoonlik wanneer die gesoebat begin: “Mammieeeee …”
Baie mense meen egter dat dit tot vetsug bydra en daar is al winkels wêreldwyd wat besluit het om liewer gesonder happies by betaalpunte aan te hou.
Lekkergoed en vetmaakgoed by betaalpunte gaan dalk ook binnekort in Brittanje iets van die verlede wees. Volgens die BBC vorm dit deel van regeringsvoorstelle om kinderobesiteit teen 2030 in Brittanje te halveer.
Daar word onder meer strenger beperkings op TV- en kuberadvertensies vir gemorskos sowel as kalorie-etikette op kos op spyskaarte beplan. Die gesondheidsekretaris van Brittanje, Jeremy Hunt, sê volgens www.theconversation.com dat hierdie maatreëls meer mag aan ouers sal gee om gesonder keuses te maak.
Die planne word oor die algemeen verwelkom en vorm deel van die Britse kinderobesiteitsplan. Teen die ouderdom van elf is een uit drie kinders in die land oorgewig of erg vetsugtig.
Daar word ook gekyk na planne om skoolkinders aktiewer te maak met die voorstel dat kinders daagliks vir minstens ‘n uur aktief moet wees.
Bron: www.bbc.com
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.