Oefening? Jy het nie die tyd of die krag nie en ook nie geld vir gims nie. Lees wat sê hierdie navorsing
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Het jy vandag swaar inkopiesakke by jou huis ingedra of was jy laat by die skool en moes toe omtrent drafstap om jou kind te gaan haal?
Wel, prof Emmanuel Stamatakis, verbonde aan die Universiteit van Sydney, sê dit tel as oefening. Hy skryf in ‘n artikel op www.theconversation.com dat jy onwetend geoefen het en dit word “hoë-intensiteit- toevallige fisieke aktiwiteit” genoem.
Hul studie in die Britse Joernaal van Sportmedisyne wys dat hierdie gereelde, toevallige aktiwiteite wat jou laat stoom en blaas, vir jou gesondheidsvoordele bied.
Selfs as jy dit in slegs 30-sekonde-sessies regoor die dag opbreek.
Meer sulke aktiwiteite in jou daaglikse roetine, of jy nou stofsuig of opdraandes loop, kan die sleutel wees vir mense wat nie tyd vir oefening het nie.
Wat is hoë-intensiteit-oefening?
Emmanuel sê die meeste gesondheidsowerhede stel aktiwiteit van minstens tien minute voor, maar die 2018 Amerikaanse verslag oor oefening, sê enige beweging beteken iets vir jou gesondheid.
Kort tye van fisieke aktiwiteit gaan hand aan hand met die beginsels van die hoë-intensiteit-interval-oefening-regime. Dit is ‘n regime waarin jy kort sessies doen, rus en dan weer sessies doen. Dit gee jou fiksheid ‘n hupstoot en verbeter kardiovaskulêre gesondheid en fiksheid.
Emmanuel glo dieselfde beginsel geld vir toevallige oefeninge, selfs 20 sekondes van trappe klim (60 trappe) drie keer per dag op drie dae per week kan oor ses weke ‘n verbetering in jou kardiorespiratoriese fiksheid toon.
As jy dus nie tyd vir oefening het nie, probeer die volgende:
- Stap kafee toe as jy kan.
- Klim die trappe in plaas van om die hysbak te gebruik.
- Los jou motor ver van die ingang by die winkelsentrum.
- Doen drie of vier vinnige stappies per dag (100-200 m).
- Loop vinnig teen ‘n pas van ongeveer 130-140 treë per minuut.
- Soek na geleenthede waar jy opdraandes kan loop.
- Vat jou hond vir ‘n stappie en draf nou en dan vir so 30-90 sekondes.
BRON: www.theconversation.com
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.