Sekere immuunselle kan elke bekende griepvirus op aarde beveg, sê ’n nuwe studie
Die doelwit om ‘n universele griepinspuiting te kry, is nou op dreef met die ontdekking dat sekere immuunselle al drie griepstamme – permanent of vir minstens ‘n paar jaar – te beveg.
Op die oomblik word die verskeie grieptipes, A, B en C, verskillende tye van die jaar in die jaarlikse inentingsmiddels geplaas om die gemuteerde weergawes van die virus hok te slaan.
As ons immuunstelsel alles kon beveg, dan was gereelde inentings nie nodig nie.
Die potensiaal vir sekere immuunselle om met al drie griepstamme af te reken, is al in 2013 opgemerk met mense wat aan voëlgriep blootgestel is.
Diegene wat ‘n sterk reaksie van die CD8+ T-selle gehad het, het gouer herstel. Hierdie CD8+ T-selle beveg inkomende bedreigings– soos ‘n sekuriteitsmag in jou liggaam.
Volgens ‘n artikel op www.sciencealert.com sê die leidende navorser Katherine Kedzierska van die Universiteit van Melbourne in Australië, dat dit juis hierdie selle is wat hulle al lank fassineer en daarom wou hulle uitvind hoe die beskermingsmeganisme werk en of daar ‘n potensiaal vir ‘n universele griepinenting is.
Die nuwe navorsing het deur 67 000 virusreekse gesif.
Die dele van die virus wat oor alle griepstamme gedeel is en die dele wat mense kan besmet, is geïdentifiseer. In toetse op muise, is die muise ingeënt en hul besmetting- en inflammasievlakke het merkwaardig afgeneem.
Daar is nog ‘n ver pad vorentoe om ‘n alles-in-een-griepinspuiting te ontwikkel, maar hierdie is beslis ‘n stap in die regte rigting, want ‘n inspuiting wat jou op een slag teen al die stamme kan beskerm, kan duisende sterftes voorkom.
BRON: www.sciencealert.com
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.