Kos, water, slaap, asemhaling en beweging – ons mees basiese behoeftes. Dit het nog nie verander sedert die eerste mense oor die vlaktes gewandel het nie
Deur: Candice Smith, hoof van Vitality se voedingstrategie
Maar wat wel beduidend verander het, is die wêreld rondom ons. Ons les ons dors met suikerbelaaide drankies terwyl ons in moderne wolkekrabbers by lessenaars sit, voordat ons in vinnige motors deur die verkeer kronkel. Dit alles beteken dat ons in wese die hele dag lank sit.
Mense eet nie net vir oorlewing nie, maar ook vir genot. Kos troos ons, dit maak ons gelukkig en dit help om ons spanning te verlig. Ons lag, ons maak nuwe vriende en bestee tyd saam met ou vriende om die etenstafel of die braaivleisvuur. Kos lig die gemoed soos wat min ander dinge kan. Die reuk van varsgebakte brood, die geurige aroma van ’n warm bredie op ’n wintersdag, ’n pot vroegoggendkoffie.
LEES OOK: Oorgewig? Só kan jy gewig verloor
Kos is ’n noodsaaklike deel van welstand. Maar daar steek meer hieragter. ’n Begrip van hoe jy rondom kos optree en hoekom jy jou besluite neem, sal baie help om ’n gesonde verhouding met kos te bou. Kos kan jou op jou beste laat presteer wanneer jou liggaamsmassa gesond is, maar kos kan ook lei tot gewigstoename en onaangename gesondheidsprobleme. Om ’n gesonde liggaamsmassa te handhaaf of gewig af te skud vir beter gesondheid, is ’n uitdaging wat talle mense in die gesig staar.
Daar is vandag meer as dubbel soveel oorgewig en vetsugtige mense as in 1980. Die sondaars is ons leefwyse en ooreting, tesame daarmee dat ons maklike, kalorieryke maaltye vol sout en suiker kies. Daar is ’n hele generasie volwassenes – 2 miljard om presies te wees – wat nou weens hul gewig ongesond is, wat daartoe lei dat hulle negatiewe gevoelens teenoor kos het. Siektes wat met oorgewig en vetsug verband hou, lei jaarliks tot 3.4 miljoen sterftes. Wat dit erger maak, is dat hierdie sterftes almal voorkombaar is – deur klein veranderinge in eetgewoontes aan te bring vir ’n gesonder gewig en terug te keer na die basiese beginsels van genoeg water, genoeg slaap en meer beweging.
Die vraag is: waarom sukkel mense met gewigsverlies?
Dit is moontlik gekoppel aan hoe ons dink. Onthou, gewigstoename is geneig om oor ’n lang tydperk plaas te vind. Waarom dink ons dan dat ons die gewig wat ons oor jare heen aangesit het oornag moet verloor? Gewigsverlies op die gesonde manier is ’n stadige proses. Kenners op die gebied van gewigsverlies sê dat stadiger beter is as jy van die vetjies ontslae wil bly. Net 0.5 tot 1 kg per week is genoeg om seker te maak jou liggaam kom nie noodsaaklike voedingstowwe kort nie en dat jy nie verwaarloos en die hele tyd honger voel nie. Kom ons wees eerlik: diëte wat belowe dat jy 6 kg per week gaan verloor, laat dit so maklik klink. Hierdie dieetgiere vereis gewoonlik radikale veranderinge wat moeilik is om vol te hou en verwyder noodsaaklike kosse uit jou kombuis. Wat gebeur wanneer jy daarmee ophou? Jy sit eenvoudig weer al die gewig aan wat jy verloor het, en dikwels selfs meer.
Benewens die besef dat gewigsverlies ’n stadige proses is wat gesonde eetgewoontes behels, is dit belangrik om die syfer op die skaal te takel. Een van die grootste probleme met stadige gewigsverlies is dat die resultate so subtiel kan wees dat jy moed verloor en begin twyfel of jou opofferings werklik die moeite werd is. Mense wat met verloop van tyd suksesvol gewig verloor en dit handhaaf, sê dit hou hulle op koers en verantwoordbaar as hulle gereeld inweeg. Dit laat hulle ook toe om veranderinge te maak voordat hul gewig handuitruk. Dit moet egter nie ontaard in ’n daaglikse obsessiewe geveg met die skaal nie. My raad?
- Weeg jouself weekliks
- Gebruik elke keer wat jy jouself weeg dieselfde skaal, en verwyder jou skoene en oortollige klere
- Weeg jouself elke week op dieselfde dag en tyd
Verskeie faktore beïnvloed ons verhouding met kos, soos kultuur, familieondersteuning, ekonomiese status en selfs gemoed. Ons gebruik kos soms as ’n hanteringsmeganisme of ’n manier om in moeilike tye in beheer te voel. Begin deur jouself te verstaan, asook jou lewe en hoe jy oor kos dink.
Is jy gereed om weg te spring?
In die eerste plek moet jy eerlik wees met jouself en oor wat jy wil bereik. Enige twyfel oor gewigsverlies kan jou terughou. Die beste tyd om die syfer op die skaal aan te durf is gewoonlik in kalmer tye. Om dit aan te pak wanneer jy weet dat jy oorgespanne gaan wees, baan nie die weg vir sukses nie.
LEES OOK: ‘n Nuwe tipe oefening met Bodytec
So, wat moet jy weet? Weet dat jy gereed is, ken jou gewoontes en snellers vir gedrag wat nie gewigsverlies steun nie, soos die plekke waar jy kos bêre of die plekke waarheen jy gaan. Ken jou doelwitte – hou hulle realisties en mik vir ’n korter tydraamwerk. Dit is makliker om korttermyndoelwitte aan te pak as ’n groter einddoelwit – gewigsverlies van 1 kg hierdie week teenoor gewigsverlies van 12 kg binne drie maande. Dit is onontbeerlik om jouself te monitor en jou vordering minstens een maal per week na te gaan.
Bykomende wenke vir gewigsverlies:
- Oefen elke dag
- Beperk die tyd wat jy voor elektroniese skerms spandeer
- Kry riglyne oor hoe om jou voeding vir jou persoonlik aan te pas
- Eet elke dag ontbyt
Gewigsverlies verskil vir elke persoon. Wat vir iemand anders werk, sal nie noodwendig vir jou werk nie. Dit is belangrik om ’n geregistreerde dieetkundige te spreek om jou eetplan vir jou aan te pas en jou te help om ’n gesonde leefstyl deel van jou lewe te maak.
Daar gaan terugslae wees. Moenie dat dit jou stuit nie. Blokkeer gedagtes soos “Ek het misluk” of “Dit is te moeilik; ek kan dit nie doen nie”. Volhard maar moenie obsessief wees nie. Hou jou vordering dop en beloon jouself as jy ’n gesonder liggaamsmassa bereik. Jy kan steeds lekker kos geniet en gereeld eet. Dit is bemoedigend dat die hoeveelheid gewig wat jy moet verloor om gesonder te wees gewoonlik net 5% tot 10% van jou aanvanklike liggaamsmassa is. Dit is dikwels heelwat minder as die hoeveelheid wat jy eintlik wil afskud. Niemand sê jy moet daar stop nie, maar jy is dalk nader aan beter gesondheid as wat jy dink. Dit kan bloot beteken dat jy ’n klein verandering moet maak in jou denke en optrede wat kos en gewigsverlies betref.