Net ouers wie se kind skielik epileptiese toevalle kry, sal weet watter skok dit aanvanklik is. As jy dit egter eers verstaan, kan jy vir jou kind ’n omgewing skep waarin hy of sy kan floreer
As jou kind met epilepsie gediagnoseer word, kan julle as ouers dalk wonder of daar iets in jul gene is wat die oorsaak van jou kind se epilepsie is en selfs voel dat julle op ’n manier verantwoordelik is. Die feit is, tensy daar ’n duidelike familiegeskiedenis is en dit herhaaldelik voorkom, is die kanse skraal dat dit oorgeërf is. Wat is epilepsie? Epilepsie is die neiging om herhalende toevalle te kry wanneer daar ’n abnormale elektriese ontlading in die brein is. Toevalle kan gesneller word deur ’n chemiese wanbalans of strukturele abnormaliteit. Die begrip epilepsie dek ’n verskeidenheid soorte toevalle waarvan die oorsaak, aard, felheid, hantering en uitkoms verskil. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) skat dat een uit elke 100 mense in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika epilepsie het.
’n Geïsoleerde toeval is nie noodwendig ’n aanduiding van epilepsie nie. Enigiemand kan op enige ouderdom met epilepsie gediagnoseer word, maar dit word gewoonlik voor die ouderdom van 20 gediagnoseer. Die meeste mense kan hul epilepsie met medikasie beheer. Kinders met epilepsie kan die toestand ontgroei. Epilepsie is nie ’n geestesiekte nie, maar ’n neurologiese toestand en is nie aansteeklik nie. In ongeveer 66% van gevalle is die oorsaak onbekend. Dit word idiopatiese epilepsie genoem. In die oorblywende gevalle kan die onderliggende oorsake geïdentifiseer word en dit staan as simptomatiese epilepsie bekend.
Daar kan ’n verskeidenheid oorsake wees soos: die gevolg van ’n hoofbesering; besering tydens geboorte, soos die gebrek aan suurstof; koorsstuiptrekkings; ensefalitis; breinvliesontsteking; metaboliese of biochemiese versteurings of wanbalanse; en selfs siektes soos masels. Ander oorsake van epilepsie wat selde by kinders voorkom, is alkohol- of dwelmmisbruik of agteruitgang weens ouderdom. Jou kind by die dokter Die dokter sal weet dat die voorkoms van epilepsie by jou kind aanvanklik vir julle as ouers skrikwekkend was en dat julle baie vrae het. Skryf reeds by die huis al die vrae neer wat julle vir jou kind se dokter wil vra. Die dokter sal jou vrae beantwoord en medikasie voorskryf op grond van jou kind se ouderdom, fisieke toestand en tipe toevalle wat jou kind kry. Dis belangrik om te onthou die medikasie genees nie epilepsie nie, maar sal in die meeste gevalle die frekwensie en felheid van die toevalle verminder. Die dokter is die enigste een wat jou kind se medikasie kan verander of aanpas. Moet dit onder geen omstandighede self doen nie. Jy is ook op ’n tweede of derde mening geregtig.
Wat vertel jy vir jou kind?
Maak seker jou kind is bewus van sy toestand. Kinders van so jonk as drie jaar kan verstaan dat die brein die liggaam beheer en soms verkeerde boodskappe na die liggaam stuur. Ouer kinders kan begin vra: Waarom ek? Jy kan dan eerlik sê dat jy nie weet nie. Oortuig wel jou kind dat dit niks is wat julle of hy verkeerd gedoen het nie. Julle sal mettertyd oor die woede, depressie en moontlike skuldgevoel kom. Dan is dit belangrik dat julle as ouers mekaar ondersteun. Julle moet albei in jul kind se gesondheid belê. Dit sal niemand baat as daar spanning in die gesin is nie. Kinders kom dit gou agter as die ouers gespanne is en kan maklik voel dat hulle vir die onmin tussen hul ouers verantwoordelik is.
Jou kind en sy onderwysers
Jy sal nie byderhand wees as jou kind by die skool ’n toeval kry nie. Jou kind se onderwysers en ander betrokkenes by die skool moet dus van jou kind se epilepsie bewus wees en weet hoe om dit te hanteer. Al die nodige inligting kan by Epilepsie SA bekom word. Hoekom dit soms vir kinders moeilik is Sommige jong lyers se toestand vererger weens stres, emosionele reaksie en verveeldheid. Dit is belangrik om die probleem te identifiseer en dit te hanteer. Die hulp van ’n terapeut, maatskaplike werker of sielkundige kan bekom word. Epilepsie word dikwels met gebrek aan intelligensie verbind. Dit is onwaar. Dit geld net in ’n klein persentasie waar die epilepsie aan ’n breinbesering of misvorming te wyte is. Sulke kinders moet geplaas word waar hul mediese en opvoedingsbehoeftes aandag kan kry. Die oorgrote meerderheid kinders met epilepsie vaar net so goed soos enige ander kind in hoofstroomskole. As kinders met epilepsie wel swak vaar, is dit weens sosiale opvattings en die stigma daaraan verbonde.
Wat jy as ouer nog kan doen
Maak seker jou kind kry ’n omvattende mediese assessering deur ’n gekwalifiseerde kenner, verkieslik ’n neuroloog.
Beklemtoon altyd jou kind se vermoëns en konsentreer op wat hy kan doen eerder as op wat hy nie kan doen nie.
Doen so veel as moontlik kennis oor die toestand op.
Wees oop en eerlik oor die toestand, vir jouself en vir jou kind.
Beklemtoon bedrywighede wat jou kind se selfbeeld en selfwaarde sal verhoog.
Sorg dat daar altyd volwasse toesig met sekere aktiwiteite is soos boomklim en swem, eerder as om jou kind te verbied om dit te doen.
Rus jou kind met die regte inligting oor sy toestand toe sodat hy vrae kan beantwoord as hy daarna gevra word.
Verseker jou kind dat hy goeie sorg sal ontvang wanneer hy ’n toeval kry sodat hy daaroor kan ontspan.
Sorg dat jou kind gereeld sy medikasie soos voorgeskryf gebruik.
Sorg vir ’n vaste roetine met genoeg rus, drie gebalanseerde maaltye per dag en gereelde oefening.
’n Roetine help om toevalle te beperk.
As jy die toestand vir jou kind verduidelik, gebruik woorde wat hy verstaan.
Hou in gedagte dat die jaar 365 dae het. As jou kind een toeval per week het, is daar nog 313 dae oor vir hom om ’n vol lewe te lei.
Moenie dat jou kind sy toestand gebruik om nie takies in en om die huis te doen nie. Hy moet steeds verantwoordelikhede hê.
Moenie die verwagtinge wat jy vir jou kind het, laat vaar net oor hy aan epilepsie ly nie.
Moenie agter toe deure oor jou kind praat of voor hom asof hy nie teenwoordig is nie.
Vermy die gebruik van negatiewe woorde soos “ly” en “toevalle”. n Moenie jou kind oorbeskerm nie – dit sal jou kind se inisiatief en vermoëns inperk.
Besoek www.epilepsy.org.za vir meer inligting rakende epilepsie
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …