Navorsers het per abuis op ‘n middel afgekom wat haargroei stimuleer
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Ernstige haarverlies het ‘n groot impak op die mense wat daaraan ly.
Britse navorsers sê nou daar is goeie nuus. Hulle het per ongeluk op ‘n nuwe kuur vir haarverlies afgekom. Hulle was besig om ‘n nuwe middel teen osteoporose te toets toe hulle gevind het dat die middel ‘n dramatiese effek op haarfollikels het. Dit stimuleer haargroei. Blykbaar is daar iets in hierdie middel wat die proteïen teiken wat haargroei belemmer en wat ‘n rol speel in mense wat bles is.
Die BBC berig dat dr Nathan Hawkshaw van die Universiteit van Manchester sê dat hierdie middel ‘n groot verskil kan maak aan mense se lewe met haarverlies.
Daar is slegs twee middels op die oomblik beskikbaar vir mense wat haarverlies weens androgenetiese alopesie het, en dit is minoxidil (vir mans en vroue) en finasteride (vir mans).
Albei middels is glo nie geredelik beskikbaar nie, het newe-effekte en is nie altyd effektief nie.
Die volgende stap is kliniese proewe om te sien of die behandeling effektief en veilig vir mense is.
BRON: www.bbc.com
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.