Sekere produkte se gesondheidsvoordele word hoog aangeprys, maar hoeveel moet mens regtig inneem om die goeie gevolge daarvan te geniet. Te veel, aldus navorsers
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
‘n Gebalanseerde dieet is goed vir jou algemene welstand. Dit is mos algemene kennis, maar soms sê mense daar is sekere produkte/kosse wat juis gesond is en wat sekere siektes voorkom.
Ons mensdom koop dit graag, want natuurlik wil jy siektes voorkom, maar hoeveel moet mens regtig daarvan eet om die voordele daarvan te geniet?
Emma Beckett, verbonde aan die Universiteit van Newcastle, en Gideon Meyerowitz-Katz, verbonde aan die Hunter New England-gesondheidsdistriksafdeling, het dit ondersoek en skryf op die webwerf www.theconversation.com die volgende:
1. Kaneel
Kaneel kan volgens bewering gewigsverlies aanhelp en aptyt reguleer en een van sy bestanddele kan cholesterol in diabete verminder. Om die voordele hiervan te geniet, moet jy egter minstens 13 g kaneel daagliks eet (die helfte van ‘n flessie).
2. Rooiwyn
Daar word geglo dat resveratrol in rooiwyn ons selle teen ‘n reeks toestande beskerm, van alzheimersiekte tot hartsiekte. Rooiwyn bevat gemiddeld drie mikrogram resveratrol per bottel. Die studies het bewys dat jy slegs ‘n voordeel daarvan geniet as jy daagliks minstens 0,1 g daarvan inneem. Dit beteken jy gaan ongeveer 200 bottels wyn per dag moet drink, wat nou nie juis gesond kan wees nie.
3. Bloubessies
Nes rooiwyn bevat dit ook resveratrol, en jy sal meer as 10 000 bessies per dag moet eet om die aktiewe dosis te kry. Bloubessies bevat ook antosianien wat hartsiektes beveg, maar om die aktiewe dosis te kry, moet jy omtrent 150-300 bessies per dag eet.
4. Sjokolade
Daar is al bewys dat teobromien in donkersjokolade bloeddruk kan verminder, maar jy gaan omtrent 100 g donkersjokolade moet eet om 1 g daarvan in te kry. As jy 100 g van hierdie sjokolade eet, sal dit ekwivalent aan meer as 2 000 kJ wees.
5. Borrie
Daar word dikwels na die curcumin (in borrie) se gesondheidseienskappe verwys, soos om inflammasie te verminder. Om die aktiewe dosis daarvan te kry, moet jy meer as 30 g borrie eet. Dit word ook nie maklik in die liggaam opgeneem nie so jy gaan eintlik daagliks meer as 100 g borrie moet eet. Dit is baie kerrie!
Die slotsom
Die navorsers sê dis nie nodig om op enkele kosse te fokus nie, eet liewer ‘n gebalanseerde en diverse dieet wat baie voedingstowwe verskaf.
Volledige artikel op: https://theconversation.com/these-5-foods-are-claimed-to-improve-our-health-but-the-amount-wed-need-to-consume-to-benefit-is-a-lot-116730
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.