Tracey Lange, radio-aanbieder by Smile FM, wil tydens Movember bewusmaking oor mans en depressie bevorder.
Movember, die internasionale bewusmakingsveldtog wat fokus op mans se gesondheid en ongeveer 4 miljoen snorre tot gevolg gehad het, is reeds in volle swang dié jaar.
Hoewel die Movember-veldtog daarop fokus om bewusmaking om prostaat- en testikulêre kanker te bevorder, fokus dit ook op algemene gesondheidskwessies soos depressie.
Tracey Lange, Smile FM se gewilde radio-aanbieder, is ambassadeur vir Relate Bracelets wat vanjaar ter ondersteuning van die Movember-inisiatief ’n Mo Bro- en Mo Sista-armbandjie verkoop. Sy voel sterk oor die bevordering van kennis oor depressie onder mans en het met Vrouekeur hieroor gesels.
Jy het vriende wat al ’n stryd met depressie gevoer het. Is dit die rede waarom jy Movember ondersteun?
Ek het al gesien hoe lewens uitmekaar geskeur word omdat mense onwillig is om depressie ernstig op te neem. Mans veral. Hulle dink dit toon swakheid om te sê: “Hei, ek sukkel bietjie.” Hulle’t hierdie idee – en ek dink die samelewing ondersteun dit sterk – dat mans veronderstel is om altyd presies te weet wat hulle doen, nooit te wys hulle is bang of oorweldig nie en nooit, onder enige omstandighede, na ’n dokter of ’n sielkundige vir hulp te gaan nie.
Movember fokus op mans en hulle gesondheid en hulle lê ook klem op depressie. Statistieke in Suid-Afrika wys dat 80% van die mense wat selfmoord pleeg, mans is. Is dit nie ’n goed genoeg rede vir ons om te vra “Hoekom voel mans hulle mag nie sê wanneer hulle emosioneel swaar kry nie?”
Is dit werklik so dat dit meestal mans is wat selfdood pleeg?
Die wêreldselfdoodsyfer is van so ’n aard dat selfdood ’n gesondheidskrisis genoem is. Ons statistieke – wat wys dat agt uit tien van die mense wat selfdood pleeg, mans is – weerspieël internasionale neigings.
Die nuutste navorsing, wat uit Stellenbosch kom, wys dat Suid-Afrikaanse mans voel hulle is onder druk om te konformeer met baie nou idees van wat dit beteken om ’n man te wees. Hulle word verwag om sterk, heteroseksuele broodwinners te wees.
Vir mans wat hierdie stereotipes aanvaar, sonder om hulle te bevraagteken, is dit onmoontlik om hulp te kry wanneer dit psigies sleg gaan met hulle. Hulle voel die wêreld gaan hulle uitlag omdat hulle swak is.
Wat dink jy is die antwoord?
Inligting en opvoeding. Hoe meer ingelig mense is oor depressie en selfdood, hoe makliker word dit om daaroor te praat, want hoe meer sal mense besef dat dit ’n gesondheidskwessie is en net eenvoudig niks te doen het met hoe manlik ’n man is nie. Depressie is nie sommer ’n buierige oomblik nie. Dis nie ’n “ruk jou reg”-ding nie. Dit is iets waarvoor ’n mens mediese hulp kan en moet vra.
As mans gaan skaam kry oor die feit dat hulle depressief is, moet hulle dan ook begin skaam kry oor ’n hoofpyn wat twee weke duur? Of oor hooikoors?
Hoe kan ’n mens help?
In die eerste plek moet nooit, ooit grappies oor depressie maak nie. Dis ’n ernstige ding, maak nie saak of jy ’n man of ’n vrou is nie – dit affekteer almal dieselfde.
As jy regtig niks weet van depressie nie, gaan doen bietjie navorsing, sodat wanneer ander mense ongeskik is oor iemand wat hulle hoor depressie het, kan jy hulle met feite reghelp. Daar’s baie inligting op die webwerf www.sadag.org (South African Depression and Anxiety Group).
Relate Bracelets
Relate Bracelets is ’n nie-winsgewende sosiale onderneming wat geleenthede skep om mense se lewens te verander deur die maak en verkoop van armbande. Die Mo Sista- en Mo Bro-armbandjies is spesiaal vir Movember ontwerp.
Alle geld wat met die verkoop van dié armbandjies ingesamel word, word aan liefdadigheid geskenk of aan die mense wat die bandjies met die hand maak. Mo Sista- en Mo Bro-armbandjies is by Woolworths-winkels beskikbaar.