Ons het ’n 30-dae-gesondheidsuitdaging saamgestel wat jou kan help. Geniet die eerste stap …
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
DAG 1
Neem ‘n kopskuif om minder op die skaal te klim en meer op ‘n gesonde, gebalanseerde lewe te fokus. Stel vir jouself ‘n gesonde eetplan op en maak planne om aktiewer te raak. Maak almal in die gesin deel daarvan.
DAG 2
Moenie vanaand ná sewe in die aand eet nie. Jou ma het dalk altyd gesê die kos moet sak, en ja, sy het beslis ‘n punt beet gehad! Kyk ook na wat regtig ongesond in jou lewe is en sny dit uit.
DAG 3
Probeer om vandag groente saam met elke maaltyd te eet. Slaai is ‘n maklike manier om dit reg te kry.
DAG 4
Fokus vandag op jou postuur. Hoe sit jy by die werk of hoe staan jy? Moenie onnodige stres op jou rug plaas nie.
DAG 5
Kou vandag elke mondvol 30 keer. Dit sal jou help om minder te eet en jou kos makliker laat verteer.
DAG 6
Vat die trappe of as jy nie trappe by die werk het nie, loop ompad. Sorg dat jy ekstra treë inkry.
DAG 7
Doen vandag ‘n oefening wat vir jou lekker is. As jy nog nie een gekry het nie, ontdek een. Google oefentipes en kry een. Laai vir jou ‘n oefentoep op jou foon af.
DAG 8
Fokus op ‘n goeie slaaproetine. Gaan slaap betyds sodat jy agt uur se slaap kan inkry. Kyk uit ‘n ander oogpunt na jou kamer en bepaal of dit werklik slaapvriendelik is?
DAG 9
Strek! ‘n Goeie strek of twee in die oggend is die perfekte manier om ‘n dag te begin. Google ‘n paar strekoefeninge of kyk na jogaposisies.
DAG 10
Vermy suiker. Te veel suiker is nie goed vir jou metabolisme, gewig of bloeddruk nie. Vermy alle kos met verfynde of bygevoegde suiker.
DAG 11
Dis waterdag. Water het talle voordele vir jou. Drink vandag minstens twee liter water.
DAG 12
Probeer om vandag vleisvry te eet en probeer ‘n nuwe groentedis maak wat heerlik en voedsaam is.
DAG 13
Gaan vir ‘n besoek aan ‘n dokter of homeopaat om seker te maak dat alles 100% met jou is. As jy dink dat jy enige aanvullings nodig het, vra die apteker vir opsies.
DAG 14
Drink vandag kruietee in plaas van koffie. Koffie het wel ook voordele, maar probeer om vandag ‘n tee soos groentee te drink, wat goed vir jou is.
DAG 15
Vandag konsentreer ons weer op oefening. Gaan stap om die blok, draf of probeer ‘n nuwe tipe oefening.
DAG 16
Vandag is jou bederfdag. Gee jouself ‘n blaaskans en eet iets lekkers. Moenie skuldig voel nie.
DAG 17
Doen iets vir jou geestesgesondheid. Lag en glimlag meer.
DAG 18
Koop vandag ‘n kruieplantjie en onderneem om meer gereeld met kruie te kook.
DAG 19
Vermy alle verwerkte kosse en fokus op iets gesonders. Rou groente bevat hope voedingstowwe.
DAG 20
Fokus vandag daarop om bewustelik te eet. Eet net tot jy versadig is en nie tot jy ongemaklik voel nie. Eet stadig en dink oor wat jy in jou liggaam sit.
DAG 21
Vandag moet jy volgraankos eet en alle verfynde en verwerkte koolhidrate vermy.
DAG 22
Dink vandag aan velgesondheid. Belê in ‘n goeie vogroom met ‘n hoë SPF-faktor.
DAG 23
Konsentreer op klein porsies en sorg dat jy nie ooreet nie.
DAG 24
Jou ontbyt en middagete moet vandag vrugte bevat. Eet minstens vyf porsies vrugte.
DAG 25
Neem vandag aan ‘n groepsaktiwiteit deel. Dalk ‘n Parkrun as dit ‘n Saterdag is, of ‘n jogaklas of dalk net ‘n lekker flink stappie saam met jou vriendin? Probeer om dit vir jouself lekker te maak.
DAG 26
Kry Vitamien D in die vorm van buitelugtyd! Doen iets lekkers buite, werk in die tuin, stap om die blok of swem.
DAG 27
Een van die maklikste stappe om jou rustiger te maak, is om diep asem te haal. Kry ‘n halfuur vandag wat jy net rustig kan sit, niks kan doen en op jou asemhaling konsentreer. Haal diep in en uit asem en word rustig.
DAG 28
Fokus op ‘n gesonde eetplan. Sny dinge uit wat jy weet nie goed vir jou lyf is nie. Fokus op ‘n eetplan wat iets van alle voedselgroepe insluit.
DAG 29
Jy moet vandag minstens 10 000 tree stap.
DAG 30
Geniet ‘n bord heerlike gesonde kos en wens jouself geluk dat jy die eerste stappie geneem het tot ‘n gesonder jy! Dink vandag aan wat jy op die duur kan doen om gesonder te leef.
BRONNE: https://theculturetrip.com, www.skinnymetea.com.au
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.