Shareen Richter is ‘n ontstres-afrigter, ‘n motiveringspreker, besturende direkteur en hooffasiliteerder van lagafrigting in Suid-Afrika. Sy is internasionaal opgelei en het twee grade in die sakebedryf. Shareen is ook ambassadeur van die Smile-stigting.
Sy gee drie wenke:
- Hou ‘n dankbaarheidsdagboek of kry ‘n dankbaarheidsbottel. Skryf elke aand voor jy gaan slaap drie goeie dinge wat daardie dag gebeur het. As daar niks goeds gebeur het nie, skryf neer wat sleg was en iets positiefs wat jy daaruit geleer het. Dit veroorsaak dat jy aan die slaap raak en positiewe gedagtes dink eerder as om op die negatiewe in jou lewe te fokus.
- As jy deur die loop van die dag ‘n knop op jou maag voel saamtrek of gespanne raak, stop vir dertig sekondes. Fokus daarop om diep deur jou neus in te asem en by jou mond uit te asem. Tel die kere wat jy asemhaal. Ek vind dat hierdie doelbewuste asemhalingoefening my kalmeer en my gedagtes orden.
- “Fake it until you make it”. Tree doelbewus opgewek op. Glimlag baie. Daar is navorsing wat toon dat as jy doelbewus opgewek optree, dit jou in elk geval laat beter voel. Loop met jou skouers teruggetrek, ‘n huppel in jou stap en glimlag. Dit sal help om jou bui te verander. Hoe beter jy van binne voel, hoe makliker sal jy stresvolle situasies kan hanteer.
Shareen rig ook studente af.
Wat is jou opinie oor die huidige stand van sake by universiteite in ons land. Dis verseker nie iets om oor te lag nie,hoe sal ‘n mens hierdie plofbare situasie hanteer?
Ek het reeds ‘n sessie met studente by die Universiteit van Johannesburg gehad. Dit het ‘n dramatiese impak gemaak. Wanneer jy goed voel oor jouself en kalm van binne is jy dadelik minder plofbaar. Dit verminder die waarskynlikheid dat studente beheer verloor en op ‘n negatiewe manier reageer. Ek glo dat lagterapie die potensiaal skep vir meer suksesvolle onderhandeling en probleemoplossing.
Meer oor Shareen:
Ek vind dit nie maklik om spontaan te lag nie, want ek is ‘n mens met ‘n ernstige geaardheid. My man spot altyd en sê hy is die snaakse ene en ek word daarvoor betaal
LAG: Trevor Noah en my man laat my lag.
HUIL: Siekte, mense wat ly en persoonlike probleme laat my huil.
STOKPERDJIES: Ek is mal oor Inner spirit-dansklasse. Dis ‘n vry vorm van dans sonder spesifieke passies. Jy sit basies net musiek op en raak ontslae van emosies. Ek hou ook van joga.
EK IS LIEF VIR…lees, want dit lei my aandag af. Dit forseer jou om op iets anders as jou bekommernisse te fokus. Jy kan net totaal en al ontvlug.