Hier is ‘n paar wenke om jou kind minder suiker te laat eet
Volgens ‘n studie deur die Britse gesondheidsdepartement eet kinders gemiddeld 10 kg suiker per jaar en die helfte daarvan is van versoete drankies en happies afkomstig.
Ons weet dat kinders én hul ouers minder suiker moet eet, maar as jy ‘n ouer is, weet jy hoe aanloklik lekkergoed vir ‘n kind is. En as die keuse nou tussen ‘n stokkielekker en ‘n stuk seldery is … Nou ja, dis nie maklik nie, maar dalk kan die volgende wenke van theconversation.com help:
Wees kreatief
‘n Mens kan ook net soveel groentestokkies en hoemoes eet voor dit vervelig raak. Helder kleure en interessante teksture en interessante geurkombinasies kan aanloklik wees.
Gee keuses
Bied vir jou kinders alternatiewe deur byvoorbeeld jogurt, neute en rosyntjies byderhand te hou. Groenteskyfies kan ook heerlik wees.
Vermy versoete drankies
Nie alle kinders hou van water nie, maar jy kan ‘n lemoen in die water uitdruk en ‘n groot houer water met ment en aarbeie vul om dit aanlokliker te maak.
Moenie belet nie, maar beheer wel
As jy jou kind verbied om sekere kos te eet, gaan dit dit net aanlokliker maak. Werk eerder aan voorstelle vir gesonde happies. ‘n Koekie of sjokolade nou en dan is nie die ergste nie, maar let wel, nou en dan. Verduidelik vir jou kind hoekom gesonde happies nodig is.
Dink aan maaltye
As jy kosmaak, dink aan wat suiker bevat en wat nie. Hoeveel suiker word by jou kinders se pap gevoeg? Kry idees vir nageregte wat nie te soet is nie en dies meer.
Eet as ‘n gesin gesond
Kinders leer by hul ouers en daarom is dit vir ouers belangrik om gesonde keuses te maak. As jy baie groente en vrugte eet, sal jou kinders dit sien en hopelik navolg.
BRON: www.theconversation.com
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.