Tandpyn? Is dit dalk die gevolg van erge negatiwiteit? Vind meer uit hier
Deur: Zerelda Esterhuizen
Een kollega het altyd as ek oor ‘n lae rugpyn kla, geglimlag en gesê: “Jip, dis al weer kommer oor finansies!”
Ek het daaroor gelag, maar dit het my wel laat wonder, want is ek nie maar altyd bekommerd oor my finansies en al die gate wat toegestop moet word nie?
Maar ek glo mos nie aan sulke nonsies nie, alles moet wetenskaplike verklarings hê … of nie?
Kan emosies enigiets met pyne in jou liggaam te make hê? Ek kan nie sê “ja” of “nee” nie, maar baie mense sê daar is nie twyfel daaroor nie.
Dis veral in die Ooste waar mense dié idee al eeue lank ondersteun. Daar glo talle dat emosionele spanning tot die ontwikkeling van verskeie siektes bydra.
LEES OOK: Voel jy af?
Volgens tradisionele Chinese geskrifte kan ‘n mens emosies reguleer en hul negatiewe effek op jou gesondheid minimaliseer deur te oefen, gelykmatig te bly, matig te eet en drink en allerlei kalmeringsaktiwiteite te beoefen.
Dr Subhuti Dharmananda is die direkteur van die Instituut vir Tradisionele Medisyne in Portland, Oregon. Hy sê een van die siektes wat hy glo deur negatiewe emosies beïnvloed kan word, is kanker.
“Dit wil voorkom asof ‘n enkele tydperk van intense stres wat maande duur (soos in die geval van ‘n egskeiding, sterfte, werksverlies of iets anders lewensveranderend) tot ernstige weefselskade kan lei wat as sneller vir die ontwikkeling van kanker kan optree. Die streshormone kan selfs latente kankerselle stimuleer.”
Volgens hom kan kanker dikwels binne ‘n jaar of twee ná so ‘n stresvolle gebeurtenis opgetel word.
LEES OOK: Finansiële stres kan ʼn invloed hê op jou verstand, liggaam en algehele welstand
“Daar word al sedert antieke tye geglo dat woede een van die groot sondebokke is wat siektes betref. Dit kan glo die lewer, die hart, maag en brein affekteer. Dit is dus baie belangrik om jou woede te beheer.”
Hy haal Shi Tianji aan, wat in die Ming-dinastie die kuns van gesonde lewenstyl aangehang het en wat gesê het daar is ses dinge nodig om gelukkig en kalm te bly om sodoende swak gesondheid af te weer. Dit is vreedsame gedagtes, tevredenheid, geregtigheid, blymoedigheid, plesierigheid en goedhartigheid
Wat sê die pyne?
Volgens die webwerf http://heartcenteredrebalancing.com kan sekere emosies in sekere pyne manifesteer:
Spierpyn
Dit kan gebeur as jy deur ‘n sekere aspek van jou lewe vasgedruk voel – of dit nou by die werk, huis of waar ook al is. Dit kan verbeter as jy leer hoe om te laat gaan.
Hoofpyn
Hoofpyne word met besluiteloosheid verbind. En migraines as jy weet watter besluit om te maak, maar dit nie doen nie. Verlig die pyn deur elke dag tyd te vind om te ontspan en te ontlaai.
Nekpyn
Dit word dikwels met vergifnis verbind, of jy nou daarmee sukkel om jouself of ander te vergewe. Dink na oor die dinge van jouself en ander waarvan jy hou en nie hou nie en leer om te laat gaan.
Tandvleispyn
Dit hou ook verband met besluiteloosheid, wees selfgeldend en maak besluite met ‘n goeddeurdagte plan.
Maagpyn
Dit kan gebeur as jy nie vervul voel nie – dit is die gevolg van ‘n leemte in jou lewe.
Lae rugpyn
Stres wat deur angstigheid oor finansies veroorsaak word, of selfs ‘n tekort aan emosionele ondersteuning kan pyn in die laer rug veroorsaak.
Elmboogpyn
Dit hou glo met die teenstand wat jy bied teen enige verandering in jou lewe verband. Jy moet dalk net leer hoe om met die stroom saam te gaan.
Armpyn
Dit beteken jy dra ‘n las – of dit nou jou eie of iemand anders s’n is. Neem tyd om oor die las na te dink en te besluit of jy dit kan aflaai.
Handpyn
Die pyn word geassosieer met hoe jy na ander uitreik. As jy pyn ondervind, probeer om nuwe vriende te maak of reik na ou vriende uit. Maak planne met kollegas en bure en bou nuwe verbintenisse.
Tandpyn
Dit kan die gevolg van voortdurende negatiewe denke wees. Dit kan veral gebeur as jy aanhoudend daaroor tob hoe min jy van jou huidige situasie hou. Fokus op positiewer denke om die pyn te verlig.