Al ooit gewonder hoe jou bril se voorskrif werk en wat al die syfers, minus-en plustekens beteken? Vind hier uit
Bernardine Flynn, ‘n optometris van Mellins i-Style, ‘n vooraanstaande groep optometriste verduidelik. Dit is tans Nasionale Oogsorgbewustheidsmaand van 23 September tot 18 Oktober en Wêreldsigdag op 11 Oktober, die ideale tyd om oogsorg en ooggesondheid te prioritiseer.
Die Snellen-toets meet jou visuele gesigsterkte teen die normale gesigsterkte. Die voorskrifsyfers van jou bril dui die fokussterkte van die lense of die ‘refraktiewe fout’ aan en die eenheid wat hiervoor gebruik word, is die diopter of straalbrekingseenheid.
Lense met negatiewe diopters (-1, -2, ens.) word vir miopie (bysiendheid) voorgeskryf terwyl lense met positiewe diopters (+1, +2, ens.) vir hiperopie (versiendheid) voorgeskryf word.
LEES OOK: “Digitale brille” – nie net ’n foefie nie
‘n Bysiende persoon met ‘n -1.00 diopter kan voorwerpe op ‘n afstand van 1 meter duidelik sien. ‘n Bysiende persoon met ‘n -2.00 diopter kan voorwerpe op ‘n afstand van ‘n halwe meter duidelik sien. Hoe groter die bysiendheid, hoe groter die lenssterkte in diopters om die refraktiewe fout reg te stel en hoe nader moet die voorwerp wees om dit duidelik te sien. Elke oog se brillens sal sy eie diopter hê omdat een oog gewoonlik effens swakker as die ander oog is.
As daar ‘n tweede syfer op jou bril se voorskrif is, dui dit die graad van astigmatisme aan (dit wil sê die graad van die optiese afwyking in die kornea se kromming). As jy astigmatisme het, kan daar ook ‘n derde syfer op jou voorskrif wees. Dit verwys na die “as” – die oriëntasie van die skerpste of platste punt van jou kornea. As jy bifokale lense nodig het, sal daar ook ‘n vierde syfer wees wat aandui hoeveel jou lense moet vergroot om vir jou duidelike visie vir naby voorwerpe te gee.
Besoek www.mellins.co.za vir meer advies en wenke oor ooggesondheid.