Met dié dat ons huisgebonde is, het baie van ons sit- en werkgewoontes verander. Ons het by Jeanne Marais, ’n fisioterapeut van Johannesburg, vir raad gaan aanklop
“Met die aanlyn konsultasies wat ek in hierdie inperkingstyd doen, het ek agtergekom dat baie mense meer met hoofpyn, rugpyn en vasgeknypte senuwees sukkel – veral mense wat nou van die huis af werk,” sê Jeanne.
“Om nou en dan by die huis te werk terwyl jy op die bank sit met jou skootrekenaar op jou skoot of op die koffietafel voor jou, is nie so erg nie, maar om dit nou vir langer tye te moet doen, kan probleme veroorsaak en jou lyf gaan begin protesteer.” As jy nie ‘n gerieflike lessenaar of tafel by jou huis het nie, is dit die moeite werd om vir jou ‘n werksplek in te rig. Die ideale hoogte vir ‘n lessenaar is 72 cm met plek daaronder vir jou bene en ‘n stoel moet min of meer 50 cm hoog en 50 cm diep wees.
Om haar pasiënte te help, het Jeanne in haar huis rondgekyk om te sien wat die meeste mense beskikbaar het om die ideale werkstasie te prakseer.
PRAKSEER ‘N TAFEL
1 Skuif twee banke rug aan rug met genoeg plek tussenin vir jou om te sit. Of gebruik enigiets anders in jou huis wat vir jou min of meer die regte hoogte sal gee.
2 Laat rus ‘n strykplank oor die twee banke en lig dit verder met boeke of planke tot die regte hoogte.
3 Sit nou jou skootrekenaar op die strykplank en lig die agterkant van jou rekenaar met boeke sodat jy nie hoef af te kyk en jou nek te strem nie.
PRAKSEER ‘N STOEL
1 Kyk rond vir enigiets waarop jy kan sit, soos ‘n krat of lae kassie wat die regte hoogte sal wees en sit ‘n kussing of kombers daarop om dit so gemaklik moontlik te maak.
2 As jou sitplek nie ‘n rugstut het nie, skuif iets agter die stoel in wat as rugstut kan dien.
3 Rol handdoeke op sodat dit ongever 15 cm in deursnee is vir ‘n rugstut.
SIT-SIT SO
Sit met jou heupe so ver moontlik na agter op jou stoel, leun vorentoe en laat sak die handdoek so laag as moontlik agter jou rug in. Sit nou regop en trek jou “lessenaar” nader sodat jy regop kan sit en werk. Die doel is om so regop en gemaklik moontlik te sit.
WENK: Onthou om gereeld op te staan om jou bene te rek.
Kontak Jeanne by 082 334 9028 of [email protected] of besoek www.jmphysio.com