Jy het al gehoor daarvan, maar wat presies is ’n “digitale bril” en hoe werk dit? Hier is alles wat jy wil weet!
Volgens oogkundiges kan brillense wat blou lig van digitale skerms en LEDs filter, oogspanning verlig wat deur oormatige blootstelling veroorsaak word en selfs retinas van langtermyn skade beskerm.
Sogenaamde “digitale of rekenaarbrille” is tans baie gewild . Die modieuse bloupers lense word deesde oral in oopplan kantore opgemerk. Maar afgesien daarvan dat hulle mooi lyk, dien hulle ‘n belangrike doel – hulle verlig nie net oogspanning wat deur volgehoue rekenaar- en tabletgebruik veroorsaak word en filter blou lig wat deur digitale skerms en LED-lig uitgestraal word nie, maar help ook dat mens ‘n goeie nagrus kry. Verder word die oë teen katarakte en retina-skade beskerm wat tot makulêre degenerasie kan lei.
Waarom is blou lig so gevaarlik?
Blou lig is deel van die normale ligspektrum wat ons elke dag op die aarde ervaar. Dit staan ook as hoë-energie sigbare lig bekend. Hierdie lig het ‘n baie kort golflengte en produseer dus ‘n hoër hoeveelheid energie.
LEES OOK: Tien digitale gewoontes vir ooggesondheid
Hoewel blootstelling aan blou lig op sigself nie gevaarlik is nie, kan oormatige blootstelling wel skade aan die retinas oor ‘n langtermyn veroorsaak en katarakte in die ooglense. ‘n Mediese studie van Harvard sê dat hoë-energie sigbare/blou lig) vir jare reeds geïdentifiseer is as die gevaarlikste lig vir die retina. “Na chroniese blootstelling, kan mens verwag om ‘n langdurige groei te sien in die aantal gevalle van makulêre degenerasie, gloukoom en retinale degeneratiewe siektes”.
In ons moderne wêreld word ons nie net aan sonlig se blou lig blootgestel nie, maar ook binnenshuis en in die aand. LED-beligting in geboue en alle hoëdefinisie (HD) skerms, insluitende rekenaarskerms, TV skerms en selfone wat LED-lig gebruik, straal ‘n hoë hoeveelheid blou lig uit.
Baie is reeds bekend oor die effek van blou lig en hoe dit produksie van melantonien onderdruk en die liggaam se dag-en-nagpatrone (wat slaappatrone en algemene gesondheid reguleer) onderbreek. Maar nou waarsku wetenskaplikes en optometriste ook dat verhoogde blootstelling aan blou lig ooggesondheid permanent kan benadeel.
Hoe om blootstelling aan blou lig te beheer
Inge Loubser, ‘n optometris by Mellins i-Style, verduidelik dat brillense met ‘n goeie anti- weerkaatsende deklaag, een goeie manier is om spesifiek blootstelling aan blouviolet-lig wat deur LEDs, televisie-, rekenaar- en selfoonskerms uitgestraal word. Sy sê dat Zeiss so ‘n produk, DuraVision BlueProtect, aanbied wat verseker dat die lig wat uitgestraal word, minder swaar op die oë is.
LEES OOK: Droë oë
Verander ook jou iOS se stellings na night shift (nagskof) wat ‘n filter bied of laai gratis toeps (apps) af vir jou slimfoon en tablet wat bloulig verminder soos Bluelight Filter for Eye Care, Twilight, EyePro-Blue-Light Filter, Blue Light Filter-Night Mode, Bluelight Filter-Night Mode, f.lux en Bluelight Filter-Eye Care.
Hoe “digitale of rekenaarbrille” help
Loubser sê die doeltreffendste “digitale brille” is eintlik ‘anti-moegheid’ of akkommoderende ondersteuning (accommodative support) lense, saam met die bloupers lenslaag.
Loubser verduidelik dat hulle ontwerp is om die oog se lensspier te ondersteun en sodoende die oë se vermoë help om naby te fokus. Hulle is veral doeltreffend vir mense in hulle dertigs en veertigs wat vir die eerste keer sukkel met nabyvisie. Die maak dit dus vir die draer makliker om te wissel tussen naby-en ver afstande en mag help om dowwe visie asook moeë, droë oë en ‘n seer nek te voorkom.
Vir persone ouer as 40 jaar beveel Loubser aan dat hulle bifokale of multifokale lense oorweeg wat sal help as dit moeilik is om naby te fokus.